Dit was mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, se boodskap tydens ’n besoek aan Vhembe nadat Limpopo se departement van landbou aangekondig het dat hy bek-en-klouseer weer amptelik onder beheer het.

Zokwana het dieregesondheidswerkers, verkeerspersoneel, die polisie en boere geloof vir hul samewerking wat gehelp het dat die uitbreking van die siekte in die provinsie se bek-en-klouseervrye gebied vinnig hokgeslaan is. Hy het die onderskeie departemente en instellings geprys vir hul samewerking en gesê dit dien as motivering vir die nasionale regering om te sien wat vermag kan word as staatsdepartemente hul kragte saamsnoer.

Dr. Chris Mabaso, wat aan die stuur gestaan het van die komitee wat moes verseker die siekte versprei nie verder nie, het gesê die uitbreking het sy tol op baie maniere geëis.

Die span

Sedert die uitbreking in Januarie is 156 beamptes van die departement van landbou, 177 verkeerspersoneel, tussen 70 en 80 polisielede en 11 rampbestuurspesialiste heeltyds ontplooi in en rondom die gebied om toe te sien dat die siekte nie versprei nie.

“Hierdie mense was die afgelope vier maande weg van hul huise af en het dikwels onmenslike ure gewerk om diere te inspekteer en in ent, terwyl ander padblokkades moes beman,” het Mabaso gesê.

Hy het gesê dat die samewerking net moontlik was omdat elkeen wat by die projek betrokke was, toegewyd was tot die saak en op die einddoel gekonsentreer het. “Mense was bereid om te werk. Hulle het hul posisies en titels opsy geskuif. Niemand het opdragte bevraagteken nie.”

Mabaso het gesê dat daar tydens die operasie met groot bedrae geld gewerk is en hoewel daar etlike geleenthede was, het nie een amptenaar hom of haar aan wanbestuur of korrupsie skuldig gemaak nie. “Ons kan vir elke ding rekenskap gee en dit was nie een keer nodig om iemand voor ’n tugkomitee te daag nie.”

Senzeni Zokwana span,
Mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, saam met die span wat die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo hokgeslaan het. Foto: Jasper Raats

Veeartse

Zokwana het spesifiek vir die veeartse van die land dankie gesê. Hy het gesê hy was veral beïndruk tydens die eerste vergadering met alle belanghebbendes nadat die uitbreking bevestig is. “Daar was ’n saal vol staats- en private veeartse en die private veeartse het nie een keer probeer om die regering vir die uitbreking te blameer nie. Hulle was daar om ons van raad en advies te bedien en hul bystand aan te bied.”

Zokwana het gesê dit is danksy hierdie gesindheid van Suid-Afrikaners dat hy met vertroue kan sê die land sal weer sy bek-en-klouseervrye status terugkry en behou. “Ons leer uit ons foute en ontwikkel strategieë en meganismes waardeur ons die diere en gemeenskappe in die buffersones beter kan beskerm.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.