Só het dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, op ’n inligtingsdag by Louis Trichardt gesê.

“Dit kan ses maande duur om die land weer vry van bek-en-klouseer verklaar te kry, of baie jare. Dit gaan afhang van die boere se samewerking met die staat,” sê Vervoort.

Nagenoeg 160 boere en ander belanghebbendes het by Adam’s Apple-hotel buite Louis Trichardt byeengekom om na Vervoort en ander kenners in veeartsenykunde, rooivleis, die vee- en die wildbedryf se terugvoer oor die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika te luister.

Dr. Mpho Maja, nasionale direkteur van dieregesondheid, sê daar word nou hard gewerk om die omvang van die uitbreking te bepaal en om seker te maak dit versprei nie verder nie. “Daarom het ons ’n siektebeheergebied geïdentifiseer wat aansienlik groter is as die plek waar die uitbreking was. In daardie gebied mag geen beeste vervoer word nie. Dit is wat die OIE van ons verwag.”

Inenting

Maja sê alle diere binne die siekte beheergebied word teen bek-en-klouseer ingeënt en dan met ‘n FC-simbool gemerk. 

“Ons het dan drie maande om al die diere wat in daardie gebied ingeënt is, te verwyder.” Sy sê die staat beoog om daardie diere te koop en te slag. Diere met bek-en-klouseer se vleis is geskik vir menslike gebruik.

Daarna kan ’n kleiner gebied met die siek diere as ’n inperkingsone verklaar word. Mits daar nie nóg diere positief toets in die groter beheergebied nie, kan die land aansoek doen om weer vry van bek-en-klouseer verklaar te word.

Ontevrede

Boere buite die siektebeheergebied wil weet waarom hulle nie hul diere mag verskuif nie. Buffeltelers is veral bekommerd omdat geen verskuiwingspermitte vir buffels in of van Limpopo uitgereik word nie, selfs al is die diere 100% naspeurbaar en al wys bloedtoetse hulle is vry van bek-en-klouseer of enige ander siektes.

Dr. Bothle Modisane, tegniese woordvoerder oor bek-en-klouseer by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, vra dat boere net geduldig moet wees. Daar is 23 spanne wat bestaan uit veeartse, tegnici en ondersoekbeamptes wat deurlopend werk om diere te ondersoek, bloed te trek en in te ent.

“Dit gaan nog so drie weke duur voor die volle omvang van die impak bepaal is. Daarna kan ons die inperkingsone identifiseer en afsper. Eers dan kan ons weer beweging van hierdie diere in die provinsie toelaat.”

Maja gee toe dat die OIE se vereistes buffeltelers benadeel, maar sy onderneem dat buffels wat tot dusver vry van siektes getoets is, weer verskuif sal mag word sodra die inperkingsone in werking tree.

Modisane sê hy het simpatie met veeboere wat ver van die siektebeheergebied is en nou nie vee kan vervoer nie. Hy sê boere wat dringend diere wil verkoop en nie binne die siektebeheergebied is nie, kan die gesamentlike operasionele kantoor van die departement bel by 072 133 4466 of 079 122 6331.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.