Só sê mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Verskeie rolspelers in die bedryf sowel as die staat en die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid vergader tans oor die uitbreking wat vroeër vandag deur die regering aangekondig is. Die proses wat nou gevolg sal word, word bespreek.  

Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is die gebied waar die uitbreking voorkom buite die beheerde gebied vir bek-en-klouseer. Die departement het monsters geneem nadat hy ingelig is van vee in die gebied wat mank lyk.

Die gebied in Vhembe is tans onder kwarantyn en die departement sê geen verskuiwing van diere word in die gebied toegelaat nie.

Boere met vee naby aan dié gebied word aangemoedig om die nodige biosekuriteitsmaatreëls te volg sodat die siekte nie na hul vee versprei nie. Die siekte is hoogs aansteeklik.

Simptome

Indien enige diere simptome van bek-en-klouseer toon, moet dit dadelik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Simptome sluit in ’n hoë koors wat vinnig afneem, blase in die bek en blase op die pote wat kan bars en lamheid veroorsaak. Gewigsverlies kan ook ’n simptoom van dié siekte wees.

Die omvang van die uitbreking asook watter verdere stappe geneem sal word, moet nog bepaal word.

Die uitbreking kan volgens mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, verreikende gevolge vir die rooivleisbedryf inhou, veral in terme van die uitvoermarkte na China en die Midde-Ooste wat die afgelope paar jaar gevestig is.

“Met die vorige ernstige uitbreking wat in 2011 voorgekom het, het die bedryf ’n verlies van sowat R3 miljard aangeteken. Hopelik kan die uitbreking gou hokgeslaan word, want met die droogtetoestande wat oor groot dele van die land voorkom kan dit ’n slag wees vir markte en produsente as die situasie lank voortsleep.”  

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.