Dit volg nadat beskuldigings wyd op sosiale media na bedryfsleiers, voerkrale en die georganiseerde landbou geslinger is in die nadraai van die jongste uitbreking van die siekte buite die beheergebied in Limpopo.

Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie, waarsku dat onwaarhede oor die uitbreking wat op sosiale media versprei word, verreikende gevolge kan hê. “Die OIE (internasionale organisasie vir dieregesondheid) kyk byvoorbeeld nie meer soveel na regeringsverslae nie, maar let op wat in die sosiale media gesê word. Om te verkondig dat 20 000 beeste reeds deur bek-en-klouseer besmet is, wat loutere bog is, kan dus tot onnodige moeilikheid vir die bedryf lei.”

Hy het só gesê na aanleiding van berigte in dié verband wat kort voor druktyd op talle WhatsApp-groepe die ronde gedoen het. “Wat eintlik waar is, is dat die aanvanklike besmetting tot enkele diere uit duisende beperk is. Die bedryf sal dus daarteen moet waak om onnodig pes- simistiese sentiment uit te lok.”

‘SENTIMENT KELDER PRYSE’

Die speenkalfprys, wat op 1 November met die bekendmaking van die nuwe uitbreking op R30,02/kg gestaan het volgens data van Absa, het teen 22 November tot R27,27/kg gedaal. Die prys op 1 November was die hoogste sedert 21 Februarie, toe dit R31,54/kg beloop het. Volgens mnr. Dewald Olivier, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, is sentiment oor die bek-en-klouseeruitbreking die markprys se grootste vyand.

“Die situasie het sedert Janua- rie vanjaar, toe die eerste uitbreking plaasgevind het, nog nie verander nie. Ons handelsvennote wat gedurende daardie tyd ooreenkomste met Suid-Afrika gesluit het oor die uitvoer van rooivleis, het nog geensins hul posisie verander nie. ’n Afvaardiging uit China het die bedryf onlangs nog gelukgewens met pogings om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp. Dit beteken dat Suid-Afrika steeds kan staatmaak op die bestaande handelsooreenkomste wat vroeër vanjaar onderteken is.”

Teen druktyd het slegs Zimbabwe, eSwatini en Mosambiek rooivleisinvoer uit Suid-Afrika gestaak, maar Olivier wys daarop dat uitvoervolumes te klein is om ’n noemenswaardige impak op die mark te hê. Die rekords van kalwers wat onlangs uit Botswana ingevoer is, is nagegaan. “Elke individuele dier se rekords wys dat hulle vry van bek-en-klouseer is.” Olivier voorsien dat die prys sal begin stabiliseer namate die Kerstyd nader kom en indien marksentiment herstel.

VERTRAAGDE REAKSIE

Dit het op ’n vergadering by ’n veilingskraal buite Bela-Bela aan die lig gekom dat mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, eers ’n volle 18 dae ná die jongste uitbreking ’n skrywe aan die weermag gerig het om hulp te vra met die oprigting van padblokkades. Die padblokkades is vir die hoofroetes van Limpopo na Noordwes, Gauteng en Mpumalanga beoog. In die voorafgaande dae het etlike bronne aan Landbouweekblad gesê daar was geen teken van monitering vir bek-en-klouseer nie.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê daar moes dadelik padblokkades ingestel gewees het toe die eerste uitbreking geïdentifiseer is sodat die vervoer van vee binne Limpopo onmiddellik beheer kon word. “Hulle (die departement se amptenare) het te lank gevat. Hulle moes so gou moontlik padblokkades ingestel het – ten minste om Limpopo – om die vervoer van vee te beperk.”

In ’n verdere terugslag vir die langtermynstryd teen bek-en-klouseer het die Landbounavorsingsraad (LNR) aangekondig dat sy nuwe aanleg waar die nuwe entstof vervaardig sal word, eers teen 2024 voltooi sal wees, en nie teen die eerste kwartaal van 2020 soos aanvanklik beoog is nie. Dit is weens hoër koste wat verband hou met bykomende vereistes vir beste vervaardigingspraktyk. Wanneer die aanleg voltooi is, sal die LNR tot 20 miljoen dosisse bek-en-klouseerentstof kan vervaardig.