Twee Dormertelers in die Oos-Kaap, Mertoun Dormers en Skaapvlei Dormers, bied op 13 Februarie hul vee op ’n produksieveiling deur middel van WhatsApp aan weens die verbod op veilings waar meer as een verkoper betrokke is.

Volgens mnr. Mario Kruger, areabestuurder van Vleissentraal Port Elizabeth in die noordelike Oos-Kaap, sou die eerste Confido in Deo Dormer-produksieveiling, waaraan drie telers sou deelneem, aanvanklik in Bloemfontein aangebied word. ’n Ander plan moes egter beraam word weens die tydelike verbod op veilings.

“Die twee telers het gehou van die idee van die WhatsApp-veiling. Vleissentraal het verlede jaar die Barkly-Oos-aanteelveiling só aangebied. Dit was suksesvol. Al die diere is teen aanvaarbare pryse verkoop.

“Dit werk op dieselfde beginsel as die internetveilings. Die koper kan nou egter iewers in die veld van sy foon af bie en hoef nie agter ’n rekenaar te sit nie.”

Mnr. JJ Nel, eienaar van Skaapvlei Dormers, sê hy en die ander teler het besluit om ’n gesamentlike veiling te hou aangesien hulle nie genoeg diere het om ’n veiling alleen aan te bied nie. Dit is ook waarom hulle ná die verbod op die WhatsApp-veiling besluit het.

Hy sê die WhatsApp-veiling is vir hom ’n nuutjie. “Ons sal sien hoe dit verloop wanneer die veiling plaasvind.”

Volgens Kruger is die voordeel dat die veiling nie areagebonde is nie en die aantal kopers onbeperk kan wees.

Hoe werk dit? 

Belangstellende kopers registreer vir die veiling en kry ’n unieke nommer. ’n WhatsApp-groep word vir elke lot gestig en die kopers word dan in groepe ingedeel volgens die lot waarin hulle belang stel. Die koper plaas ’n bod op die diere en die proses word deur die Vleissentraalspan gemonitor en beheer.

’n Volledige katalogus van die diere is vooraf beskikbaar, saam met video’s of foto’s van die diere.

Volgens Kruger is daar ook ’n reserweprys op die lotte. Die veiling bied ook ’n kostebesparing vir die boer en Vleissentraal aangesien die diere nie na ’n lokaal aangery word nie en daar nie ’n veiling geskep of ’n lokaal daarvoor opgestel moet word nie. Boere betaal ook minder kommissie vir die WhatsApp-veiling.

Kopers kan egter wel self die diere op die plaas gaan besigtig.

Kruger meen egter die WhatsApp-veiling sal nie ’n tradisionele veiling vervang nie, aangesien dié veilings ’n bymekaarkomplek is vir boere.

“Ek glo ook ’n aanteelveiling is maar soos kar koop, net soos jy die kar teen die band wil skop, wil jy ook die vee sien voor jy hulle koop, maar as alternatief kan dit werk in die huidige toestande.”

Hy glo dit is ’n nuwe formaat wat gekom het om te bly en sekere veilings sal in die toekoms só aangebied word.

Tegnologievaardig

Volgens Kruger is dit ’n probleem om ouer boere te oorreed om die tegnologie te gebruik.

Daarby moet ook vertroue by die koper geskep word dat die diere op die foto dié is wat hy gaan koop.