Dit volg nadat dr. Hinner Köster, sy lewensmaat, me. Ensli Strydom, en ’n derde persoon, ’n mede-inwoner van die Silver Lakes-landgoed in die ooste van Pretoria, op 12 Februarie hardhandig deur die polisie hanteer en in hegtenis geneem is nadat hulle sowat 5 minute ná die aandklokreël se voorgeskrewe tyd (wat toe nog 23:00 was) by die ingangshek van die landgoed stilgehou het.

“Ons gaan beslis die saak verder voer. In die verlede het ek al gehoor van mense wat hardhandig deur die polisie hanteer is. Nou het ek eerstehands die trauma ervaar waardeur mense gaan wanneer so iets gebeur,” sê Köster.

Hy is veral bekend om sy kundigheid oor dierevoeding. Hy is uitvoerende direkteur en aandeelhouer van die Kaonne Investments-groep, asook president van die konvokasie van die Universiteit van Pretoria.

Op die betrokke aand was die drie van Menlopark op pad huis toe. Die GPS-toestel het hulle op ’n langer roete geneem en hulle is effens opgehou, maar hulle het besluit om nie te jaag om voor 23:00 by die huis te wees nie.

Nadat hulle van die N4-hoofweg op Solomon Mahlanga-rylaan gedraai het, het ’n polisievoertuig hulle agtervolg en met flitsende ligte aangedui dat hulle moet aftrek.

“Ons het die veiligheidsrisiko ontleed en besluit om stadig tot by die Silver Lakes-hek ongeveer 1,5 km verder te ry,” sê Köster.

By die hek het een van die polisiebeamptes nader gestap. Hy was volgens Köster uit die staanspoor aggressief en wou hy homself nie identifiseer nie. Hy het die bestuurder beskuldig dat sy roekeloos bestuur het, omdat sy nie dadelik stilgehou het nie.

“Ongelukkig het sy nie haar rybewys by haar gehad nie en haar seun het dit na die hek gebring. Ongevraagde kru taal en haatspraak is herhaaldelik gebruik deur die polisie wat ook onder meer gesê het “shut up your dirty mouth” en dat ons nie moet dink ons is onaantasbaar omdat ons agter hoë mure bly nie,” vertel Köster.

Nadat hulle herhaaldelik gevra het waarvoor hulle aangekla word, het die polisie eers verwys na roekelose bestuur, toe dat die bestuurder nie haar rybewys by haar gehad het, en uiteindelik ook uitgewys dat hulle in die motor nie hul maskers – wat byderhand was – gedra het terwyl hulle met die polisie gepraat het nie.

Die aandklokreël is in daardie stadium nie eens genoem nie. Die polisie het gesê die bestuurder moet na die Silverton-polisiekantoor (sowat 8 km daarvandaan) gaan om beboet te word. Die rede daarvoor was op daardie stadium steeds duister.

Hulle het gevra om op die plek die boete te kry. Die polisie het gedreig om hulle in hegtenis te neem en in ’n vangwa te gooi as hulle nie saamwerk nie.

Vroulike polisielede is ontbied om die twee vroue in die vangwa in te dwing. Köster, die twee vroue en die seun van die bestuurder wat haar rybewys gebring het, het toe ingestem om agter die polisie na die polisiekantoor te ry.

By die polisiekantoor is gesê dat almal in hegtenis geneem moet word. Vir die eerste keer is genoem dat hulle die aandklokreël oortree het. Geen opsie van ’n boete was toe meer ter sprake nie.

“Daar is verkeerdelik op die klagstaat geskryf dat ons ’n halfuur laat was pleks van sowat vyf minute. Ná baie dreigemente, kru taal en rondstampery is ons na aparte selle gebring en die deure is agter ons toegemaak,” vertel Köster.

" 'n Les te leer"

Die bestuurder van die motor is voordat sy by Strydom in die selle toegesluit is, met pepersproei direk in haar oë gesproei en sodanig gestamp dat sy op haar rug geval het. In die sel is Strydom rondgepluk en met pepersproei direk op kort afstand bygedam om haar volgens die vroulike polisiebeampte “ ’n les te leer”.

“Die selle was klein, vuil en het erg na urine geruik. In my sel moes ek langs vier ander mans op dun matrasse lê en van persoonlike afstand was daar geen sprake nie. Daar was ook nêrens sanitasiemiddels sigbaar om ons teen Covid-19 te beskerm nie,” sê Köster.

Al drie is die volgende oggend vrygelaat nadat hulle lang verklarings afgelê nadat ’n polisiekaptein glo bewus geraak het van die magsvertoon.

Köster, Strydom en die bestuurder het reeds ’n klag teen die betrokke polisielede gelê en konsulteer vandeesweek met adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid om raad in te win oor die instel van ’n siviele eis teen die polisiebeamptes.

Hoe moet jy maak in so ’n situasie?

Mnr. Willie Spies, prokureur en direkteur van die regsfirma Hurter Spies, sê die belangrikste is om altyd kalm te bly wanneer die polisie jou konfronteer.

Regulasie 33(1) van die aangepaste vlak 3-beperkings bepaal dat persone van 23:00 tot 04:00 by hul blyplekke moet wees. As jy versuim om dit te doen kan dit lei tot skuldigbevinding en ’n boete en/of 6 maande tronkstraf,” sê Spies.

Die regulasie op die aandklokreël is streng en grasie is nie ’n reg nie, maar ’n mens se kans op vergunning is groter as jy nie die wetstoepassingsbeampte uitdaag of minderwaardig laat voel nie.

“As jy onveilig voel, ry tot by die naaste polisiekantoor en trek daar af. Bel solank ’n prokureur om jou by die betrokke polisiekantoor te ontmoet. Dit bly egter riskant, want mens moet eintlik stilhou as ’n gemerkte polisiemotor jou aftrek. As jy wel voorgekeer word, wees versigtig om nie onnodig in argumente met ’n polisiebeampte betrokke te raak nie. Soms kan gewone vriendelike bedagsaamheid wondere verrig,” sê Spies.

“Sorry, sorry chief,” met ’n kort verduideliking van waarom jy laat is of te vinnig gery het, is dikwels towerwoorde wanneer ’n mens jouself in ’n ongemaklike posisie met verkeersmense of die polisie bevind, meen Spies en sê dat hulle wel die mag het om mense na goeddunke in hegtenis te neem.

As jy ’n permit het om buite die aandklokreël rond te ry, beveel Spies aan dat jy altyd alle dokumentasie by jou het, asook jou identiteitsdokument en rybewys. En as jy byvoorbeeld ’n boer is wat deel is van die reaksiemag of buurtwag, moet jy ander lede onmiddellik kontak as jy in so ’n situasie beland.

“Probeer ook altyd om so gou moontlik ’n boodskap by ’n regspraktisyn of familie uitkry, maar moenie jou verset teen inhegtenisneming nie,” sê Spies.