Mnr. Gerrit van der Merwe (68) van die ALG-boerdery op Citrusdal, was saam met sy vrou, Lizette, op ’n toer na Uganda toe hy Sondag vroegaand in Lilongwe in ’n sloot gegly en sy voet seergemaak het.

Volgens sy broer, Lieben, is Gerhard en Lizette na ’n kliniek, van waar hy gehelp is om by ’n hospitaal uit te kom. Hy het deurmekaar begin praat en sy bewussyn verloor. By nadere ondersoek is daar gevind hy het bloeding op die brein. Gerrit is kort daarna per lugambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Hy is Dinsdagaand breindood verklaar, en die lewensondersteunende masjiene is vanoggend om 12:50 afgeskakel. “Ek het heeltyd sterk gestaan en geglo daar gaan ’n wonderwerk gebeur. Hy het Sondagmiddag nog vir my ’n WhatsApp gestuur om te sê hulle kuier lekker en dat dit goed gaan,” het ’n bewoë Lieben gesê.

Gerrit se seun Gerrit jr. het dit as “ ’n baie rou tyd vir die familie” bestempel. Die ALG-boerdery is in 1974 gestig toe die drie broers Alwyn (All), Lieben en Gerrit kragte saamgesnoer en ’n maatskappy gestig het. Met verloop van tyd het All en Lieben hul aandele aan Gerrit verkoop.

Die boerdery verbou tans sitrus op sowat 550 hektaar, waarvan hulle sowat 20 000 ton vrugte oes. Gerrit het ook baanbrekerswerk verrig om die Amerikaanse mark vir Wes-Kaapse sitrusvrugte te ontwikkel.

Baanbreker en kundige

Mnr. Charl Senekal, suikerrietboer en ’n hegte vriend van Gerrit sr., het hom as ’n groot gees in die landbou, maar veral die sitrusbedryf en in bemarking bestempel.

“Hy was ’n uitsonderlike mens. As jy met hom gesels het, kon jy sien hoe diep strek sy kennis oor sy vakgebied. Hy was werklik ’n kenner en ’n baanbreker op sy gebied en sal deur duisende boere in die land gemis word.” Volgens Senekal sou Gerrit sr. in Januarie by hom kom tiervis vang het op sy plaas langs die Jozinidam.

“Ek dink dit sou ’n fees gewees het. Gerrit sal in my leeftyd nie weer vervang word nie; daar is nie ’n man wat so baie vir sitrusboerdery in die Wes-Kaap gedoen het as hy nie. Ek plant ook nou sitrus, en die saadjie daarvoor het by hom ontstaan.”

Benewens sy vrou laat Gerrit ook sy kinders, Gerrit jr., Sebastine en Alwyn agter. Gerrit jr. en Sebastine is by die familie-onderneming betrokke. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.