Groot toenames in eiendomspryse in die Suid-Kaap is die rede waarom boere in die Hessequa-munisipale gebied vanjaar aansienlik meer vir eiendomsbelasting sal moet opdok.

Volgens me. Didi Budricks, woordvoerder van die Hessequa-munisipaliteit, het die markwaardes en verkooppryse van eiendom in die munisipale gebied oor die afgelope sewe jaar beduidend verhoog en is dit die rede vir die toename in waardasies vir die waardasierol, wat van 2021 tot 2026 sal geld.

Volgens Budricks skryf die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting (Wet 6 van 2004) voor hoe eiendomme se markwaarde bepaal word. Die vorige waardasierol, wat tot 30 Junie in plek was, is opgestel volgens marktoestande wat in 2013 geheers het. Die huidige waardasierol, wat van 1 Julie af in werking getree het, is opgestel volgens marktoestande wat in 2020 geheers het.

Volgens ’n boer van Albertinia, wat binne die Hessequa-munisipaliteit val en anoniem wil bly, sal hy vanjaar 172% meer belasting moet betaal. Hy voer aan dat volgens algemene riglyne vir dieselfde wetgewing moet belastingtariewe nie die voortbestaan van ’n onderneming bedreig nie, en met ’n styging van 172% is dit wel die geval.

Volgens Agri Wes-Kaap het verskeie boere in die munisipaliteit aangedui dat hul grondbelasting aansienlik hoër is, maar die toename wissel van boer tot boer. 

Tariewe aangepas

Volgens Budricks is die nuwe waardasierol vir 2021 tot 2026 in 2020 deur ’n onafhanklike, geregistreerde waardeerder, Suid-Kaap Waardeerders, vir eiendomme binne die munisipaliteit se afgebakende gebied opgestel.

Die nuwe waardasierol is in November 2020 per e-pos aan alle eienaars gestuur.

Om voorsiening te maak vir die algemene verhoging in markpryse het die munisipaliteit tariewe vir eiendomsbelasting afwaarts aangepas. Tariewe vir plaaseiendom wat vir boerderydoeleindes aangewend word, is met 42%, van 0,002218 sent in die rand na 0,001290 sent in die rand, verlaag.

In gevalle waar appèl aangeteken is, sal die appèlproses volgens die munisipaliteit teen die einde van Oktober 2021 afgehandel wees.

Hoewel die boer met wie Landbouweekblad gepraat het, ook die nodige besware en appèl aangeteken het, moet hy intussen steeds die hoër bedrag betaal aangesien die betaaldatum reeds aan die einde van September is. Volgens die boer maak hy normaalweg gebruik van die afslag wat hy kry indien hy sy belasting voor die sperdatum betaal, maar sal hy dit vanjaar moet verbeur.

Pryse in omgewing

Die munisipaliteit sê die waardeerder wat hy aangestel het, is van George in die Suid-Kaap en ken die toestande in die gebied. Pryse in die gebied wissel van R2 500/ha vir Karooveld tot R300 000/ha vir boorde onder besproeiing.

“Landbougrond is gewaardeer deur gebiede in te deel as Klein Karoo (noord van die bergreeks), berg- en voetheuwels, vlaktes, rûens, duinegrond (suid van die N2), see- en rivierfront, oos van Albertinia en die Riversdal-nedersetting.

“Landbou-eiendom is verder verdeel in droëland of bewerkte grond, veld, besproeiingslusern wat ingelys is onder ’n besproeiingskema, besproeiingslusern wat nie ingelys is onder ’n besproeiingskema nie, asook boorde vir wynwingerde tot boorde wat gelys is onder ’n besproeiingskema.”