“In die lig van die uiterste gevaar waarin Suid-Afrikaners daagliks verkeer, is dit skandelik dat veiligheidsuitgawes wat deur belastingbetalers aangegaan word om hul wonings te beveilig, nie van hul inkomstebelasting afgetrek kan word nie,” het mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, by die bekendstellingsgeleentheid gesê.

Hy sê misdaad is buite beheer en die staat slaag nie daarin om na die veiligheid van sy inwoners om te sien nie. Daarom moet mense self na hul veiligheid omsien.

Mnr. Johannes Stoker, adviseur vir die veldtog bekend as Vryheid teen Misdaad, sê Suid-Afrika kan amper nie voortbestaan nie sonder die vier fundamentele pilare in die Grondwet, wat insluit vryheid, demokrasie, gelykheid en menswaardigheid. Misdaad is die een groot struikelblok in die pad van vryheid en die statistieke bewys dit.

“Net een voorbeeld daarvan is 1,2 miljoen huisinbrake rofweg elke jaar. Dit bedreig almal en ons kan nie staan en wag dat dit aanstaande jaar weer gebeur nie. Ons moet die risiko beperk.”

Hy sê die Grondwet maak voorsiening vir die reg om vry te wees van geweld en daar is ’n verpligting om wetgewing te hê om landsburgers veilig te hou. “Ons wil die regering help om sy verpligting na te kom in die beste belang van elke Suid-Afrikaner. Dit is irrasioneel dat ek belasting kan aftrek vir my besigheid se sekuriteitsuitgawes of ’n aftrekking kan kry as ek ’n skenking maak vir die publiek se beveiliging, maar nie vir sekuriteit by my huis nie. Dit word nie as noodsaaklik beskou nie.”

Hy sê by staatsamptenare se huise word sekuriteitsuitgawes as noodsaaklik beskou. Selfs Nkandla se buitensporige veiligheidsuitgawes is geregverdig al het dit daar na luukshede gelyk.

“Hoekom kan ons nie belasting aftrek vir sekuriteitsuitgawes op die plek waar ons die kwesbaarste is nie? Hierdie is nie luukshede nie. Ons wil die Belastingwet in lyn bring met die Grondwet. Dit is belangrik dat wetgewing ons regte ondersteun en dit nie belemmer nie.”

Maatreëls

Geldenhuys sê by hul huise behels veiligheidsmaatreëls onder meer heinings, veiligheidstrale wat aan alarms gekoppel kan word, diefwering, staalhekke, kamerastelsels en waghonde. In landelike gebiede waar buurmanne mekaar ook moet bystaan, is daar bykomende beveiligingstoerusting soos koeëlvaste baadjies, vuurwapens, goeie flitse, radiotoerusting en ’n betroubare voertuig. “Al hierdie dinge kos geld en dit is hoekom ons van TLU SA se kant af ’n oplossing soek.”

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê iewers sal Suid-Afrika se inwoners ’n streep in die sand moet trek oor veiligheid. “Alle mense, ongeag ras, geslag of politieke oortuiging, moet help om opbouende druk op die regering te plaas sodat ons na ons eie veiligheid kan omsien en ons van ons belastinggeld daarvoor kan aanwend. Hierdie is nie ’n TLU-saak nie. Dit is ’n saak vir die hele Suid-Afrika.”

Enigiemand kan die petisie ondersteun deur by die skakel www.tlu.co.za/vryheid-teen-misdaad/ ’n e-pos direk aan mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, te stuur.