Só sê mnr. Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se afdeling vir grond, oor die nuwe struktuur en strategiese plan vir die volgende vyf jaar wat die departement aan die parlement se portefeuljekomitee op landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgehou het.

Hy sê die nuwe departement moenie landbou-aspekte afskeep nie. “Daar is ’n gevaar dat die gronddebat landboukwessies kan oorskadu. Hoewel Agri SA die belangrikheid van grondhervorming ten volle erken, verg die landbou nou groot klem.”

Hy sê Agri SA het met kommer kennis geneem dat die departement beoog om die wetsontwerp op die regulering van landbougrondbesit terug te bring. Dié omstrede wetsontwerp maak voorsiening vir grondplafonne en die regulering van buitelandse grondbesit. Volgens hom blyk dit ook dat planne om artikel 25 van die Grondwet te wysig voortstoom, asook die onteieningswetsontwerp.

“Agri SA en sy lede speel ’n groot rol in die verligting van hongersnood met voedselhulp wat aan verskeie gemeenskappe gelewer is. Vir boere om aan te hou produseer, is beleidsekerheid en sekerheid van eiendomsreg nodig. Dit is ook uiters belangrik dat boere wat op staatsgrond boer, sekerheid van eiendomsreg en bekostigbare finansiering kry om produksie op hierdie grond te optimaliseer.

“Ons het nou visionêre leierskap nodig wat Suid-Afrika reg kan posisioneer vir die veranderde wêreld ná die pandemie. Die landbou gaan ’n nog groter rol speel in die toekoms en die landbousektor moet gekoester en beskerm word.”