“Belegging verg sekerheid in die omgewing waarin daar belê word,” het mnr. Chris Venter, uitvoerende hoof van Afgri Group Holdings, tydens ’n paneelbespreking op die Africa Agri Tech-konferensie in Pretoria gesê.

“ ’n Mens wil hê dat maatskappye in die landbou- en voedselsektor belê, maar dit gebeur nie omdat ons nie langtermynsekerheid het nie.”

Venter het gesê pres. Jacob Zuma se termyn het nege potensieel verlore jare meegebring en daarna was daar nóg twee tot drie verlore jare.

Wat boere se eie beleggings in hul boerderye betref, het Venter gesê boere probeer om elke drie tot vyf jaar toerusting te vervang, maar wag nou langer.

Afgri Equipment is die grootste John Deere-handelaar in Wes-Australië en Venter sê boere daar se aandag is op die weer en die pryse van kommoditeite. “Dít is waarop ’n boer se aandag gevestig behoort te wees, maar in Suid-Afrika is dit elektrisiteit en die vraag of ’n boer oor vyf jaar nog sy grond sal hê,” het Venter gesê.

Mnr. Russell du Preez, uitvoerende voorsitter van die beleggingsgroep RussellStone, het gesê dié onderneming belê kapitaal in die Australiese avokadobedryf “omdat ons op die oomblik nie enige langtermynveiligheid in grond (in Suid-Afrika) sien nie”.

As ’n mens grond nie besit nie, sal jy nie energie daarop bestee soos om ’n damwal te bou en kapitaal te vorm nie, het Du Preez gesê.

‘Geduldige kapitaal’

“Geduldige kapitaal” is nodig vir belegging in die landbou omdat dit ’n hoërisikobedryf is, het mnr. Jannie Stockenström, medebeleggingshoof van Wiphold, gesê. “ ’n Mens het tyd nodig, daar is siklusse, en jy moet skaal kan bou, wat baie belangrik in die landbou is.”

Mnr. Stephan van der Walt, besturende direkteur van die beleggingsonderneming Pallidus, het gesê omdat die landbou langtermynbelegging verg, kan die bedryf nie elke drie jaar aan verandering in beleid blootgestel word nie.

Volgens Van der Walt stel sowel plaaslike as buitelandse beleggers meer belang in beleggings wat met uitvoerprodukte verband hou, of produkte waar waarde deur byvoorbeeld inligting toegevoeg kan word.

Europeërs sal volgens hom meer vir ’n produk betaal as hulle weet waar dit vandaan kom.