As die oeste so groot soos verwag is, kan dit die grootste oes vir mielies, sojabone en sonneblomsaad naas die 2016’-17-oes wees. 

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) raam die kommersiële mielie-oes op 14,6 miljoen ton, wat 29% of 3,2 miljoen ton meer is as verlede jaar se oes. Die sojaboonoes word geraam op 1,2 miljoen ton, wat 6,2% of 73 000 ton meer is, en sonneblomsaad word op 699 000 ton geraam, wat 3,1% of 21 000 ton meer is.

Volgens die NOK se hersiene skatting vir die oppervlakte onder mielies is dit nou 2,6 miljoen ha, wat 13% meer is as die hektare wat die vorige seisoen aangeplant is en ook 65 000 ha meer as wat in Januarie geraam is. Die gemiddelde opbrengs word op 5,6 t/ha geskat.

Die oppervlakte onder witmielies is 1,6 miljoen ha (’n toename van 23%) en vir geelmielies is dit 1 miljoen ha (0,14% meer).

Die produksieskatting van witmielies is 8,2 miljoen ton, wat 49% meer is as die vorige seisoen. In die geval van geelmielies word 6,2 miljoen ton verwag, wat 500 000 ton meer is.

Mnr. Wandile Sihlobo, senior ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê weersomstandighede was oor die algemeen gunstig die afgelope paar weke en al die gewasse lyk in ’n goeie toestand. Hy glo daarom is die skattings haalbaar.

“In die geval van mielies beteken dit dat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder sal wees in die 2020-’21-bemarkingsjaar wat in Mei begin. Dit sal in ’n jaar wees waarin die behoefte aan invoer in die res van Suider-Afrika waarskynlik groter as vanjaar sal wees, met Zimbabwe wat al so ’n groot behoefte aan mielies het dat hy sy verbod op GM mielies opgehef het.”

Hy sê met ’n oes van 14,6 miljoen ton sal uitvoer na bestemmings soos Japan, Taiwan, Viëtnam en Suid-Korea ook moontlik wees. Anders as met mielies sal Suid-Afrika waarskynlik ’n netto invoerder bly van sojaboonprodukte soos oliekoek en sonneblomolie, ondanks die groter oeste.

Sonneblom, oliesade, grondbone

Al word ’n groter sonneblomoes verwag, is die hersiene oppervlakteskatting van 500 000 ha sowat 15 000 ha minder as die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,4 t/ha. Die oppervlakte vir sojabone word op 705 000 ha geraam, wat 25 500 ha minder as verlede jaar is. Die verwagte opbrengs is 1,76 t/ha.

Vir grondbone is die verwagte oes 54 000 ton, wat 180% meer is as die vorige seisoen, en vir sorghum word die oes op 135 000 ton geraam, wat 6% meer is.

In sy finale skatting vir wintergewasse het die NOK die koring-oes onveranderd gelaat op 1,5 miljoen ton met ’n verwagte opbrengs van 2,78 t/ha. Die produksie in die Wes-Kaap word op 633 750 ton geraam, in die Vrystaat op 313 600 ton en in die Noord-Kaap op 262 500 ton.

Die finale skatting vir moutgars is onveranderd gelaat op 345 080 ton, terwyl die verwagte kanola-oes 96 200 ton is.

Voornemens vir die aanplanting van wintergrane in 2020 word einde April bekend gemaak.