Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se syfers vir die afgelope bemarkingsjaar is daar net meer as 1,5 miljoen ton geel- en net meer as 500 000 ton witmielies uitgevoer.

Die meeste witmielies (184 000 ton) is na Botswana en (90 000 ton) na Italië uitgevoer. Die meeste geelmielies het gegaan aan Viëtnam (690 000 ton) en die Republiek van Korea (215 000 ton).

Volgens Sagis is daar in die bemarkingsjaar 171 000 ton geelmielies na Suid-Afrika ingevoer. Hierdie neiging sal waarskynlik in die nuwe jaar voortgesit word en handelaars het reeds kennis van hul voornemens gegee om in Mei sowat 70 000 ton se geelmielies in te voer.

Risiko

Mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, het vroeër belemtoon dat daar steeds nog ’n redelike produksierisiko in veral Noordwes is waar koue skade kan aanrig.

Hy sê volgens die jongste oesskatting en die verwagte verbruik vir die seisoen lyk dit of daar genoeg witmielies behoort te wees vir plaaslike verbruik. “Die geelmielievoorraad is aan die lae kant en dus is die verwagting dat geelmielie-invoer gaan plaasvind gedurende die 2019-’20-seisoen. Die geelmielie-invoer sal hoofsaaklik vir die kusgebiede wees (Wes- en Oos-Kaap).”

Wat Suid-Afrika sê vraag- en aanbodsituasie vir die nuwe bemarkingsjaar betref verwag die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) in sy jongste opname ’n totale aanbod van 13,4 miljoen ton bestaande uit onder meer ’n oordragvoorraad van 3 miljoen ton, lewerings van net meer as 10,1 miljoen ton en invoer van sowat 450 000 ton.

Die totale vraag word geraam op 11,9 miljoen ton, bestaande uit ’n plaaslike vraag van 10,9 miljoen ton en uitvoer van 1 miljoen ton. Dit sal ’n oordragvooraad van 1,4 miljoen ton in Mei 2020 beteken (50 dae se verbruik).

Wit en geel

Wat witmielies betref , sê die NLBR, is daar die einde van dié maand ’n oordragvooraad van net meer as 1,8 miljoen ton. Saam met die verwagte lewering van net meer as 5,1 miljoen ton witmielies in die bemarkingsjaar, sal die totale aanbod op 6,9 miljoen ton staan.

Die totale vraag (plaaslike verbruik van net meer as 5,5 miljoen ton, asook uitvoer van 550 000 ton) is 6,1 miljoen ton, wat ’n oordragvoorraad op 30 April 2020 van net meer as 800 000 ton  (55 dae se verbruik) beteken.       

Wat geelmielies betref, word ’n totale aanbod van 6,4 miljoen ton verwag, wat bestaan uit ’n oes van sowat 5 miljoen ton, ’n oordragvooraad van meer as 1,4 miljoen ton en invoer van meer as 450 000 ton.

Die totale vraag (plaaslike verbruik van 5,4 miljoen ton en uitvoer van sowat 400 000 ton) word op 5,8 miljoen ton geraam.  Dit laat ’n oordragvoorraad in 2020 van 630 000 ton, wat gelykstaande is aan 45 dae se verbruik. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.