’n Groep Oos-Vrystaatse melkprodusente wat hulself vir die opheffing van hulle gemeenskap beywer, is die tweede jaar agtereenvolgens as die beste melkboere in die Vrystaat aangewys.

Die maatskappy MD Foundation van Ficksburg, wat vanjaar as die Vrystaatse Elite-suiwelprodusent van SA Stamboek aangewys is, was ook die provinsie se meestersuiwelboer van 2013, terwyl mnr. Jacques Moll, een van die vennote, onder meer al die titel van nasionale suiwelboer in 2008 ingepalm het.

Mnr. Hannes Pretorius, wat saam met Moll en mnr. Danie Venter die melkery die afgelope vier jaar bedryf, sê benewens die liefde vir suiwel en die toepassing van die korrekte praktyke om volhoubaar te produseer, is hulle onderneming op goeie verhoudings gegrond om ’n ideale werkplek te skep.

Hulle is vol vertroue oor ’n blink toekoms vir Suid-Afrika en sy melkbedryf. “Ek glo dat die oorblywende ondernemers wat wil boer, sal ’n sukses daarvan kan maak. Daar is altyd planne om uitdagings te bowe te kom en is aan ons hemelse Vader te danke,” sê hy. Die melkery het sowat 1 400 Holstein- en Jersey-koeie in melk.

Benewens verskeie boerdery-vertakkings soos skape, vleisbeeste en akkerbou, dien MD Foundation sy landelike gemeenskap, skep werk en help armoede verlig. Hulle bedryf ook ’n skool en ’n hospies vir 15 Vigs-lyers.

Die Elite-suiweltoekennings word vanjaar die eerste keer in vyf streke gemaak: Noord, Vrystaat, Kwazulu-Natal, en die Oos- en Wes-Kaap.

Die data van alle melkkuddes wat aan Stamboek se Logix-melkaantekening deelneem, kom in aanmerking vir brons-, silwer-, en goue toekennings. Die streke se voorste twee tot vier melkkuddes word deur dieselfde beoordelingspaneel besoek. ’n nasionale wenner word tydens SA Stamboek se Elite-galafunksie in April 2015 in Bloemfontein aangewys.

Byskrif: Die Vrystaatse Elite-suiwel-wenners. Van links dr. Japie van der Westhuizen (beoordelaar) van SA Stamboek en mnre. Danie Venter en Hannes Pretorius (MD Foudation) en Rampie de Wet, organiseerder (SA Stamboek). Foto Johan Norval

Vrystaatse-Elite-suiwelboere