Me. Ivy Nokwanele van Mzamo in die Oos-Kaap is as die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se algehele vroulike Entrepreneur van die Jaar aangewys.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het tydens die geleentheid gesê ons moet trots wees op vroue en hul vermoë om nie net hul gesinne nie, maar ook die wêreld te voed. Zokwana het gesê een van die hoofoogmerke van hierdie toekennings is om uitvoergeleenthede vir vroueboere te ontgin. “Dit is hoog tyd dat ons die bydrae van vroue in die landbousektor, wat dikwels as ’n manlike terrein beskou is, raaksien en waardeer,” het hy gesê.

Me. Pansy Mekwa, algemene bestuurder: strategie by Total Suid-Afrika, het ook gesê dat vroueboere oor Afrika heen meer as 70% van die vasteland se voedsel produseer, maar hul insette en bekwaamheid word dikwels misgekyk. “Die Entrepneur van die Jaar-toekennings wil dit juis verander deur die suksesverhale van opkomende vroueboere dwarsoor die land. Hierdie vroue is 'n inspirasie in hul gemeenskappe wat voordeel trek uit hulle boerdery-aktiwiteite, of dit nou deur voedselsekerheid of werkskepping geskied.”

Die toekenningskategorieë en wenners is:

Beste vroulike  werker: Me. Hawukile Makhanya van KwaZulu-Natal.

Beste bestaansboer: Me. Thandeka Moseki van Noordwes.

Top-entrepreneur in die kleinboersektor: Me. Sandra Kroutz van Gauteng.

Top-entrepreneur in die verwerkingsektor: Me. Ilse Ruthford van die Wes-Kaap.

Top-entrepreneur in die kommersiële sektor: Me. Mponeng Lentoro van die Vrystaat.

Top-entrepreneur in die sektor vir uitvoermarkte: Me. Ivy Nokwanele van die Oos-Kaap.

Die minister se spesiale toekenning het na me. Linah Mahlangu van Mpumalanga gegaan. Hierdie toekenning gee erkenning aan die bydrae van jong vroue en vroue met gestremdhede wat entrepreneurs is. Die spesiale toekenning vir die jeug is aan me. Leah Skosana, ook van Mpumalanga, toegeken.