Dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer, het die resultate van ’n navorsingsopname wat onder die kamer se bedryfsorganisasielede gedoen is, op ’n konferensie van die bedryfs- en korporatiewe kamer bekend gemaak.

Die konferensie word op 24 en 25 April in Pretoria aangebied.

Altesame 19 respondente het aan die opname deelgeneem. Hulle het gesê van die geld wat hulle in 2017-’18 aan navorsing bestee het, was 76% vir navorsing deur “ander instellings”.

Dit sluit onder meer hul eie geriewe, provinsiale departemente van landbou, private navorsingsmaatskappye, die WNNR, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die SA Suikervereniging, die SA Suikerrietnavorsingsinstituut en die Waternavorsingskommissie in.

Hulle het sowat 16% op navorsing deur universiteite bestee en slegs 8,1% op navorsing deur die LNR.

Die respondente het geen geld op navorsing deur die nasionale navorsingstigting of die departement van wetenskap en tegnologie bestee nie. Oor laasgenoemde het Prinsloo gesê dit is belangrik om ’n verhouding met dié departement te bou om die geld te kan benut wat daar vir navorsing begroot word.

Volgens hom is die skuif weg van die LNR af in skerp teenstelling met dié instelling se tradisionele posisie as die sentrale punt van Suid-Afrikaanse landbounavorsing. Dit bring dus dringende beleidsvrae na vore.

“Die indruk bestaan dat die LNR nie op hoogte van die bedryf se navorsingsbehoeftes kon bly nie, wat organisasies dwing om ander vennote te vind,” het Prinsloo gesê.

“Die toename in private navorsingsinstellings en die versterking van landbounavorsingskapasiteit in navorsingsagentskappe wat voorheen ’n breë grondslag gehad het, toon dat dit die beste kan wees om eerder die neiging na te volg as om teen die stroom te swem.

“Die LNR kan hom in werklikheid nou beter toespits op voorrangsake in openbare belang, soos biosekerheid en voedselveiligheid,” het hy gesê.

Altesame 11 van die respondente het gesê hul navorsingsbesteding het die afgelope vyf jaar gestyg, vier het gesê dit het gedaal en vier s’n het dieselfde gebly.

Verder het 10 respondente gesê hul navorsingsbesteding beloop tussen 0% en 20% van hul bruto inkomste en 9 het gesê al hul navorsingsgeld kom van heffings.

Pieter Prinsloo,
Dr. Pieter Prinsloo. Foto: Carien Kruger


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.