Mnr. Neil de Klerk, kommunikasiebestuurder van GWK, het op Landbouweekblad en GWK se droogtehersteldag op Brandvlei gesê dis noodsaaklik om presies te weet hoe en hoeveel boere en gemeenskappe deur die droogte geraak word om seker te maak dat die landbou nie vernietig word deur swak beplanning nie.

“Ons weet plase se hekke is gesluit, maar ons weet nie hoeveel nie. Ons weet eenvoudige werksgeleenthede, soos vir skaaplorriebestuurders, het verlore gegaan, maar ons weet nie hoeveel nie. Ons weet daar word nie meer veel onderhoud op plase gedoen nie, maar ons weet nie hoeveel van die mense wat dit gedoen het, kry nie meer werk nie. Dis noodsaaklik dat ons ordentlik verstaan wat op pad is sodat ons kan beplan en die ongelooflike bate wat die landbou is, beskerm kan word.”

Hy het gesê op die meeste dorpe is boerdery en maatskaplike toelaes die enigste noemenswaardige inkomstestrome. “Maar maatskaplike toelaes hou nie infrastruktuur aan die gang nie. Die landbou doen dit.”

Hy hoop ook dat hulp aan boere beter gekoördineer kan word, veral omdat die hulp onvoorsiene gevolge kan inhou. “As ons iets uit die droogte kan leer, is dit om ons samewerking aan strukture soos Agri Noord-Kaap te gee om dit te beskerm om seker te maak die platforms bly sterk.”

De Klerk het gesê boeregemeenskappe, die georganiseerde landbou en landboubesighede moet aanhou om bewustheid oor die droogte te skep. “Ons moet dit by mense tuisbring dat reën uitkoms bring, maar nie voer skep nie en dat nog hulp nodig is.”

neil de klerk
Mnr. Neil de Klerk. Foto: Amelia Genis