Die Wêreld- Ekonomiese Forum het in 2011 die belangrikheid van water-energie-voedsel-skakeling (in Engels bekend as WEF Nexus) bevestig en in Suid-Afrika het die Waternavorsingskommissie (WNK) reeds die afgelope paar jaar navorsing hieroor laat doen.

’n Verslag waarin navorsers van die Universiteit van KwaZulu-Natal, in opdrag van die WNK, kyk na die stand van skakeling in Suid-Afrika is in Februarie by ’n gespreksessie in Pretoria bekend gestel.

Prof. Tafadzwa Mabhaudhi het ’n eenvoudige voorbeeld gebruik om die belangrikheid van die skakeling te verduidelik: Wanneer ’n besproeiingskema ontwerp word, word dit naby ’n rivier gedoen en Eskom installeer ’n transformator.

’n Mens sou dink as die water dan gepomp word, sal almal tevrede wees, maar in die praktyk is dit nie noodwendig so nie. Die Eskomrekening is dalk só hoog dat die boer se produksie nie daarvoor kan vergoed nie. Dis dán wanneer ’n mens op ’n plaas kom en sien die mense het die besproeiingspype verkoop, het Mabhaudhi gesê.

Hy het die drie sektore se interafhanklikheid van mekaar benadruk.

Om hul beplanning en bestuur te integreer, is nie altyd in die praktyk moontlik of maklik nie, omdat al die inligting nie tussen sektore toeganklik is nie en verskillende maateenhede gebruik word. 

Konflik tussen sektore

Hy het na die verlies aan hoëpotensiaal-landbougrond in Mpumalanga, weens steenkoolmyne, verwys as voorbeeld van konflik tussen die sektore.

In die landbou sluit moontlike tegniese toepassings van skakeling tussen die sektore presisieboerdery en die hergebruik en herwinning van water in.

Die verslag meld ook dat Suid-Afrika groot potensiaal het vir die gebruik van hernieubare energie, veral sonkragopwekking.

Skakeling tussen die sektore moet Suid-Afrika se nastrewing van sekere maatskaplike doelwitte in ag neem, naamlik dat mense voedsel, skoon water en sanitasie, en bekostigbare en skoon energie moet hê.

Die navorsers het ’n raamwerk voorgestel waarvolgens skakeling bevorder kan word en Mabhaudhi het gesê gevallestudies is nou nodig.

Die navorsers doen verder ’n beroep dat Suid-Afrikaners opgevoed moet word: Huishoudings moet riglyne kry oor afvalbestuur, veral voedselvermorsing en herwinning, terwyl grondeienaars riglyne moet kry vir die volhoubare benutting van hul grond-, water- en energiehulpbronne.

Hulle sê in die lig van planne soos die Nasionale Ontwikkelingsplan en moontlike onteiening sonder vergoeding is dit baie belangrik dat beleidmakers kyk watter uitwerking verhoogde produksie op water- en energiehulpbronne kan hê.

Staatsdepartemente benader luidens die verslag hulpbronbestuur meestal in isolasie van mekaar, sonder om die gebruik van water, energie en grond deur ander sektore in ag te neem.

“Dit is ’n groot kwessie in Suid-Afrikaanse beleidmaking, veral met verwysing na die land se beperkte waterbeskikbaarheid, die skaarsheid van hoëpotensiaal- bewerkbare grond, en sy afhanklikheid van fossielbrandstofgebaseerde energie-opwekking.”

Die navorsers waarsku dat klimaatsverandering die beskikbaarheid van hulpbronne verder gaan benadeel. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.