Mnr. André Engelbrecht, hoof- uitvoerende beampte van Riebeek Cellars, sê sedert Sondag is die kelder, die poskantoor en munisipale kantore, asook twee drankwinkels op die dorp, geplunder en beskadig. “ ’n Groot groep mense het die kelder Sondagaand omstreeks 22:30 bestorm. Hulle het die elektroniese hekke en heinings wat daar is, oopgebreek en die kelder se vensters stukkend gegooi met die klippe wat in ons rotstuin is.”

Engelbrecht sê aanvanklik is niks geplunder nie. Hy sê terwyl die groep van 22:30 tot 02:00 Maandagoggend tussen Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes beweeg het, het plunderaars die kelder se terrein betree en by onder meer die proekamer en kantore ingebreek.

Skade aan die kelder gaan “derduisende rande” beloop. Engelbrecht sê die skade aan die elektroniese hekke alleen beloop al sowat R120 000. Verder is pilare en mure ook beskadig, terwyl wyn wat in die proekamer was, gesteel is. Kantore is ook geplunder, met onder meer rekenaars wat gesteel is.

'n Boom is gebruik om van die kelder se heinings oop te breek. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Klippe van die rotstuin lê in die geplunderde kantore. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Stukkende vensters. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Daar is ook gepoog om in die store in te breek. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die proekamer se rakke en kasregister is gestroop. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Kratte op die kelder se terrein is ook beskadig. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die kelder se voordeure is ook oopgebreek. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die hekke is ook oopgebuig. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die yskaste is oopgebreek en geplunder. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Wyn is van die proekamer se rakke af gesteel. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die kantore is geplunder en rekenaars gesteel. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Talle venters is uitgegooi. Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die elektriese motors van die elektroniese hekke is ook gebreek. Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff
Die heinings en plantegroei is beskadig. Foto's: Eljay Geldenhuys en Alecia Boshoff

Werksaamhede staan stil

Die kelder se deure is tans gesluit en al 50 werknemers is aangeraai om tuis te bly tot verdere kennisgewing. Engelbrecht sê ál hul werksaamhede, hetsy dit finale voorbereidings is om nuwe wyn te bottel of om hul bestellings betyds te versend, staan stil. “Ek het al ons werknemers laat weet dat hulle veilig by hul huise moet bly tot alles kalm raak.” 

Hy sê betogings het deur die loop van Maandag sporadies in die dorp opgevlam. Die betogers is na bewering ontevrede oor dienslewering en ’n gebrek aan behuising.

Engelbrecht sê intussen maak hulle planne om die hekke en heinings wat gebreek is, te herstel sodat moontlike plunderaars nie bloot die kelder se terrein kan binnekom nie. “Ons het ook ekstra sekerheid by die kelder.”

Hy is nog nie bewus van enige persone wat in hegtenis geneem is weens die plundering van die kelder nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.