Konvensionele grondbewerking, wat uit skeurploegbewerking (rip), ploeg en skoffel bestaan, veroorsaak erosie en die agteruitgang van die grond se gehalte. Bewaringslandbou word op ’n beraamde 20% van die grond in die somersaaigebied toegepas, terwyl die oppervlakte in KwaZulu- Natal en die Wes-Kaap ongeveer 80% is.

In die somersaaigebied word dus hoofsaaklik op konvensionele grondbewerking staatgemaak om graan te verbou. Die vooruitsig vir mielies met bewaringslandbou lyk egter baie gunstig in veral Noordwes. Noordwes se klimaat is droog en die grond is oorwegend sanderig. Internasionale navorsing toon dat hoër opbrengste met geenbewerkingsmielies in dié toestande verwag kan word.

Opbrengs

Die ondervinding van bewaringsboere in Noordwes en ’n plaaslike proef se resultate bevestig die opbrengsverhoging. Die opbrengsverhoging kom veral in produksiejare met ’n midsomerdroogte voor. In die proef was die opbrengs van mielies onder geenbewerking in 2014-’15 byvoorbeeld 6,3 ton per ha, teenoor 3,5 ton per ha by mielies wat konvensioneel bewerk is.

Dié resultate en ondervinding dui ook daarop dat bewaringslandbou in die toekoms die impak van klimaatsverandering kan versag. Na verwagting gaan die weer wispelturiger en die somersaaigebied droër word. Reën sal dus so doeltreffend moontlik gebruik moet word.

Per hektaar is die belegging in en gebruik van trekkers en werktuie vir bewaringslandbou baie laer as by konvensionele grondbewerking — gewoonlik minder as die helfte. Die gebruik van trekkers en werktuie neem ook drasties af. Die gebruik van diesel en die instandhoudingskoste neem gewoonlik met meer as 50% af.

Vrae

Soos met enige groot verandering ontstaan vrae en onsekerhede. By sekere grondtipes daal die opbrengs van mielies pleks van om te styg. Oplossings moet daarvoor gekry word. Onkruidbekamping is aanvanklik moeilik by bewaringslandbou en daar word swaar op onkruiddoders gesteun.

Om ’n deel van die oesreste op die grond te laat pleks van om dit vir winterweiding te benut, verg moontlik ook ’n aanpassing van die veebedryfvertakking. Internasionale ondervinding wys dat optimale praktyke en stelsels van gebied tot gebied verskil.

’n Wisselboustelsel wat byvoorbeeld in een gebied goed vaar, is nie noodwendig die aangewese stelsel vir ’n ander gebied nie. Selfs aspekte, soos plantdigtheid, rywydte en bemesting, sal deur navorsing geoptimaliseer moet word.

Die punt is dat klimaatsverandering, die agteruitgang en erosie van grond en die koste wat aan trekkers en werktuie verbonde is, die volhoubaarheid van graanverbouing in Noordwes ondermyn. Die omskakeling van konvensionele na bewaringslandbou moet dus ernstig oorweeg word.

Dié omskakeling verg ’n denkskuif en waagmoed, en dít is nie maklik nie. Bewaringslandbou is egter die enigste manier om volhoubare graanproduksie te bevorder.

  • Dr. André Nel is verbonde aan die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse in Potchefstroom.