Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê in die eerste van ’n reeks inligtingstukke oor die moontlike uitwerking van Covid-19 dat daar geen rede tot onmiddellike kommer is nie.

“Leë kosrakke in dele van die land weerspieël paniekerige opgaring deur verbruikers en nie ontwrigte voedselvoorsieningskettings nie. Suid-Afrika is in die geheel ’n surplusprodusent van voedsel en die waarde van Suid-Afrika se voedseluitvoer oorskry invoer met ’n beduidende marge.”

Laer pryse

Oor uitvoer sê die BFAP dat moontlike ontwrigtings weens logistieke probleme of beperkings op die beweging van goedere ’n ongunstige ekonomiese uitwerking op Suid-Afrikaanse produsente, landboubesighede en uitvoerders sal hê.

“Landbousake-ondernemings sal moontlik laer pryse te bowe moet kom as produkte wat vir uitvoer bestem is, na die plaaslike mark herlei word. Dit kan tydelik seisoenale, plaaslike surplusse en laer pryse op die plaaslike mark veroorsaak, met die omvang van die potensiële uitwerking wat per kommoditeit sal verskil.”

So byvoorbeeld kom die seisoen vir tafeldruifuitvoer nou tot ’n einde, terwyl die volgende drie maande kritiek is vir die uitvoer van sitrus, appels en pere.

Invoer

Oor die produkte wat Suid-Afrika invoer, sê die BFAP dat die wêreldmark goeie voorraad daarvan het en enige potensiële periodieke tekort sal hoofsaaklik weens logistieke ontwrigtings wees wat deur beperkings op die beweging van mense en beperkings op die beweging van goedere veroorsaak kan word.

Dit sal egter net geld vir die spesifieke voedselsoorte wat tipies kom van ’n streek wat deur Covid-19 geraak word.

Suid-Afrika se grootste landbou- en voedselinvoer kom van China, Thailand, Brasilië, eSwatini en Argentinië.

Die invoer uit China behels grotendeels leerprodukte, diereprodukte en tekstiel, maar daar is rede tot kommer oor invoer uit Europa, wat nou as die episentrum van die globale uitbreking beskou word. Die Europese Unie as geheel verskaf meer landbou- en voedselprodukte aan Suid-Afrika as China.

“Koring is die grootste bydraer tot die waarde van invoer (uit Europa), gevolg deur ongedenatureerde etielalkohol, sonneblomolie, verwerkte voedselprodukte en hoendervleis,” sê die BFAP.

“In die geval van koring kan Suid-Afrika hom na alternatiewe markte soos die Swart See en Amerika wend. Dit sal invoerpariteitspryse waarskynlik opstoot, maar dit sal volgehoue verskaffing verseker as Europese uitvoer beperk word.

“Thailand is, as die hoofverskaffer van rys aan Suid-Afrika, ook ’n belangrike oorweging. Tot op hede is die omvang van Covid-19 in Thailand baie minder ernstig as in Europa en China.”

Die belangrikste produkte uit Brasilië, eSwatini en Argentinië is onderskeidelik hoendervleis, suiker en soja-oliekoek vir dierevoer.

Hoewel ’n uitgerekte uitbreking van Covid-19 die volgehoue beskikbaarheid van dié produkte kan raak, is die wêreldwye aanbod daarvan volgens die BFAP nie rede tot kommer nie.

Daar is ruim produksie en voorraadvlakke danksy verskeie jare waarin die produksievlakke hoër as die langtermyngemiddelde was. Dit het tot ’n siklus van laer landboukommoditeitspryse gelei.

“As beskikbaarheid ’n kwessie raak, moet ’n mens in gedagte hou dat die invoer van produkte soos hoendervleis en groente-olie slegs aanvullend is tot Suid-Afrika se eie produksie, wat die vermoë het om uit te brei en ingevoerde produkte te vervang.”

Rakende vars vrugte en groente is Suid-Afrika ’n mededingende surplusprodusent, met ruim voorrade vir plaaslike verbruik.

Mielies pleks van koring, rys

Suid-Afrika verwag vanjaar verder, danksy die moontlik tweede grootste mielie-oes in die geskiedenis, ’n beduidende surplus in mielieproduksie.

Die BFAP verwag ’n totale oes van 15,5 miljoen ton, waarvan 9,1 miljoen ton witmielies is. Suid-Afrika se menslike verbruik van mielies as stapelvoedsel is sowat 5,4 miljoen ton per jaar en totale voerverbruik is 5,8 miljoen ton per jaar.

“Dit beteken dat ons ruim mielies sal hê om in die vraag in die menslike en voermarkte te voorsien, en in staat sal wees om na buurlande uit te voer.

“Selfs in ’n scenario waar die globale voorsieningskettings die deurlopende invoer van rys en koring op mediumtermyn sou ontwrig, sal Suid-Afrika genoeg stapelwitmielies hê om ’n relatiewe verskuiwing weg van rys en koring na mielies te kan akkommodeer.”