Dit kom nadat die VF Plus ’n versoek tot Cele gerig het om ’n amnestietydperk van ses maande van die Parlement aan te vra waartydens onwettige vuurwapens by die polisie ingehandig kan word.

Die versoek volg ná ’n uitspraak in die Grondwethof verlede maand waarin agt regters eenparig beslis het alle vuurwapenlisensies wat ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie (Wet 60 van 2000) uitgereik is en verval het voordat die eienaar dit hernu het, ongeldig is.

Cele stel voor dat die amnestietydperk van 1 September vanjaar tot einde Februarie volgende jaar moet geld.

Hierdie amnestietydperk sal van krag word as die Parlement se portefeuljekomitee vir polisie hierdie voorstel op 16 Augustus goedkeur én die Nasionale Vergadering dit ook bekragtig.

Amnestie verwelkom

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die verlede het getoon dat geen vuurwapen wat ingehandig is, vantevore in ’n misdaad gebruik is nie. Dit dien as bewys dat ’n amnestietydperk misdadigers nie aanspoor om hul wapens in te handig nie.

Hy sê die amnestietydperk bied nogtans ’n geleentheid aan vuurwapeneienaars, wat nagelaat het om betyds aansoek te doen om die hernuwing van hul vuurwapenlisensies, om van nuuts af aansoek te doen om ’n lisensie vir dieselfde vuurwapen. Dit beteken dat ’n vuurwapeneienaar sy of haar vuurwapen vir veilige bewaring kan indien by die polisiekantoor, aansoek kan doen om ‘n nuwe lisensie en waarna hulle dan die vuurwapen kan gaan haal as die lisensie uitgereik word.