Een van Landbouweekblad se lesers in die Karoo het oor die feestyd verstrengel geraak in ’n bitcoin-bedrogspul en eensklaps $250 verloor. Hierdie fout, wat hom meer as R3 500 gekos het, kon baie erger gewees het as dit nie was vir sy seun se flinke optrede nie.

Die 70-jarige man, wat anoniem wil bly, het soos duisende ander mense geïnteresseerd geraak in Bitcoin. Hy het afgekom op ’n webblad genaamd Bitcoin Code. Dié webblad maak dit maklik om daarop in te teken en dit kos “slegs” $250, met die belofte om derduisende dollar per dag te verdien.

Hy het so gemaak en dit was nie ’n uur voor hy ’n oproep ontvang het nie. Die stem aan die ander kant het ’n swaar aksent gehad, maar het goeie Engels gepraat.

$13 000/dag

“Dit was die eerste van talle oproepe. Volgens die man aan die ander kant van die foon het hulle ’n algoritme ontwikkel wat in die programmatuur vervat is en wat sorg dat jy nooit geld kan verloor terwyl jy op hul platform in Bitcoin handel dryf nie.

Hy het gemeen dat ek elke dag $13 000 per dag kan verdien. Volgens hom sou hierdie programmatuur se algoritme tot 95% akkuraat kon voorspel hoe die prys van Bitcoin sou beweeg. Ek sou dan met koop-en-verkooptransaksies geld verdien.”

Dit is toe dat sy seun, wat saam met hom boer, ingetree het en hom gehelp het om van die mense ontslae te raak. Toe die seun by die kantoor instap, het die mense aan die ander kant van die telefoon die man pas oortuig om hulle toegang tot sy aanlyn-bankrekening te gee.

Die seun het die aansluiting met die vreemdelinge afgeskakel en die proses stopgesit. Pa en seun het alle kredietkaarte gekanselleer en die toegangskodes en wagwoorde van hul aanlyn-bankrekening verander sonder dat enige verdere geld verdwyn het.

Foefie
Sedertdien het hierdie mense meer as 30 oproepe na die man se selfoon gemaak en talle e-posse gestuur om hom weer te oortuig om met hulle te kommunikeer.

“Hulle het my pa oor die eerste vier of vyf telefoonoproepe sag gemaak en laat glo dat hulle aan sy kant is. Toe ons ná die tyd op die internet gaan kyk wat die Bitcoin Code is, het ons gesien dit is ’n foefie,” vertel die man se seun.

Volgens mnr. Edwin Smit, ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, is daar slegs twee kripto-geldeenheidbeurse in Suid-Afrika waar geld in Bitcoins belê kan word, naamlik Luno en Ice 3X.

“Daar is geen goeie rede hoekom enigiemand geld aan ’n handelsplatform van ’n derde party hoef te betaal nie. Maak seker die beurs wat jy gebruik, is ’n geregistreerde diensteverskaffer,” sê Smit.

Hou Landbouweekblad dop vir ’n volledige artikel van Smit wat hierdie kwessie in detail sal bespreek.