Kripto-geldeenhede is in wese 'n virtuele vorm van kontant. Dit is 'n elektroniese rekord wat aan 'n entiteit behoort.

Dit maak gebruik van die sogenaamde blokketting-tegnologie. Hierdie tegnologie is basies 'n lys van transaksies wat aanhou groei, en kriptografie word gebruik om dit te beveilig. Gedesentraliseerde konsensus word bereik deurdat die data reg oor die internet gehou word, en nie op 'n sentrale plek nie.

Bitcoin is die mees bekende van vele kripto-geldeenhede. Dit het in 2009 tot stand gekom. Die gebruik van hierdie kripto-geldeenhede is primêr om mee handel te dryf. Verskeie aanlyn verhandelingsplatvorms bied reeds Bitcoin as ‘n betalingseenheid.

* Lees ook die artikel, Privaatgeld is die toekoms.

Bergplek van waarde

Japan het boonop vroeër in 2017 Bitcoin as betalingsmetode bevestig. 'n Ander rede vir die belangstelling in hierdie virtuele munte is dat hierdie geldeenhede as 'n bergplek van waarde (“store of value”) deur sommige partye beskou word. Alhoewel die stoor van waarde een van die primêre bestaansredes vir geld is, is daar partye wat van die opinie is dat kripto-geldeenhede veiliger is vir hierdie doelwit.

Heelwat vrae en onsekerheid heers rondom kripto-geldeenhede. Dié geldeenhede het die volgende goeie en slegte eienskappe:

Positiewe eienskappe:

* Desentralisasie: Die databasis van transaksies word oral op die internet gehou. Daar is dus geen sentralisasie nie. Dit verduidelik waarom dit na bewering moeilik is om bedrog te pleeg: Alle rekords moet ooreenstem.

* Hierdie geldeenhede word op muntbeurse verhandel. Muntbeurse vra 'n klein transaksiefooi wanneer in munte handel gedryf word. Daar is ook 'n klein verwerkingsfooi betrokke by betalings en oorplasings na verskillende muntbeursies.

* Enige persoon met ‘n slimfoon het toegang tot hierdie tipe munte. Dit beteken dat daar meer as 2 miljard mense is wat dit kan gebruik as betalingsmiddel.

* Internasionale aanvaarding: Mense in verskillende lande kan met min moeite met mekaar besigheid doen. Wisselkoerse is nie van toepassing nie. Die verskillende kripto-geldeenhede word natuurlik in dollar geprys, maar kan ook in Bitcoins geprys word.

* Anonimiteit: Niemand weet wie die partye tot 'n transaksie is nie.

Negatiewe eienskappe:

* Hierdie geldeenhede word meer gesien as kommoditeite as normale geldeenhede. Dit beteken dit is meer riskant.

* Dit word nie deur 'n sentrale bank ondersteun nie, wat hoër risiko beteken. Daar moet egter in gedagte gehou word dat sogenaame “quantative easing” die laaste dekade deur sentrale banke in onder meer Amerika, Europa en Japan gedoen is. Dit kom streng gesproke neer op die druk van nog papiergeld, sonder 'n dienooreenkomstige toename in die betrokke lande se bates. Laasgenoemde strategie beteken hoër risiko vir hierdie normale geldeenhede.

* 'n Munt word herken aan die inkripsiekode, nie die naam van die eienaar nie. Dit beteken dat sou iemand die eienaar se inkripsiekode steel, word die munte ook gesteel. Dit is dieselfde as met gewone kontant: Dit kan wegraak.

* As die vraag na ‘n kripto-geldeenheid afneem, kan dit waardeloos word. Dit is dieselfde situasie as met 'n kommoditeit.

Bogenoemde bring die voIgende vraag na vore: Is dit raadsaam om in hierdie geldeenhede te investeer?

Om die vraag te beantwoord, dink oor die volgende na: Hierdie geldeenhede is waarskynlik hier om te bly. Die beste advies sal wees om ‘n baie klein deeltjie van 'n portefeulje blootstelling te gee aan kripto-geldeenhede. Soos altyd maak dit sin om te diversifiseer, en beleggers kan hulle portefeuljes verdeel tussen die grootste munte: Bitcoin, Bitcoin Cash, Ethereum en Ripple. Alle kripto-geldeenhede kan in fraksies gekoop word, dus kan portefeuljes gelyk verdeel word tussen hierdie vier geldeenhede. Suid-Afrikaners kan Bitcoin transaksies op die Luno-beurs doen.

Ssos altyd, moet beleggers ook hulle eie navorsing oor die onderwerp doen.

* Edwin Smit is 'n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ‘n Gemagtigde Finansiële Dienste Verskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ‘n geregistreerde JSE finansiële handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Hy praat Maandae aande om 18:45 op RSG Geldsake. Sy kontakbesonderhede is: (012) 484-4013 of edwin.smit@bvg.net.  Die volgende dienste word gebied:

Wisselkoers verskansing op BVG se Yield-X (JSE) lisensie. Lesers kan inteken op die daaglikse valuta verslag.

Die ruil van fisiese kontant in samewerking met Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en vice versa. Fondse word direk in kliënte se Absa of Investec bank rekening betaal. BVG Financial Solutions neem dus nie self die geld in ontvangs nie.

“Contracts for difference (CFD’s)”: Kliënte gebruik hierdie instrumente om hulle opinies in die markte uit te druk.

Aandele-portefeuljebestuur in samewerking met Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandele verslae.