Die Bloemskou wat van 23 April tot 1 Mei 2021 in Bloemfontein sou plaasvind, is afgelas. Dit volg op soortgelyke aankondigings van die Royalskou in Pietermaritzburg (28 Mei tot 6 Junie), die Vryburgskou (24 tot 26 Maart) en verskeie skoue in die Wes-Kaap.

Die bestuur van Graan Suid-Afrika moet nog sy besluit oor die voortsetting van die Nampo-oesdae vir 2021 bekend maak.

Mnr. Terry Strachan, uitvoerende hoof van die Royal-landbougenootskap, het  vroeër vandeesweek luidens ’n verklaring aangekondig dat die Royalskou nie vanjaar plaasvind nie. “Dit is met teleurstelling dat ons die tweede jaar agtereenvolgens die Royalskou afgelas weens die voortslepende onsekerheid oor die Covid-19-virus. Dit is onwaarskynlik dat groot byeenkomste voor Oktober 2021 toegelaat sal word.”

Me. Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van die Bloemskou, sê die beoogde skou vir 2021 is afgelas weens die huidige inperkingsregulasies, met inagneming van die veiligheid van alle belanghebbendes en kliënte, asook die verwagte verloop van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.

“Ons is dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning wat ons die afgelope jaar van al ons uitstallers, kunstenaars, borge, diensverskaffers, die landbougemeenskap en lede van die publiek ontvang het. Ek glo ons kan weer in die komende jaar daarop staat maak.”

Sy sê daar word reeds beplan aan Bloemskou 2022 wat van 27 April tot 7 Mei 2022 sal plaasvind.

Van die telersgenootskappe wat aan die Bloemskou sou deelneem, oorweeg nou afsonderlike byeenkomste op die skouterrein wat aan die inperkingsmaatreëls ten opsigte van bywoning voldoen. “Die stoetveebedryf se telers smag na geleenthede vir bymekaarkom, diere vertoon en ou kennisse ontmoet,” sê Prinsloo.

Intussen het die kontrak vir die Covid-19-veldhospitaal, wat sowat 20% van die terrein van Bloemskou beslaan het, in November 2020 verstryk. ’n Klein gedeelte van dié gerief sal dalk vir diens behou word, maar Bloemskou begin eersdaags om die infrastruktuur af te breek.