Mnr. Danie Slabbert, ’n bekende bewaringsboer van Reitz in die Vrystaat, lid van die Riemland-studiegroep en Vrystaatse Jongboer van die Jaar in 2013, is die toerleier. Ons vertrek op 25 Augustus 2018 en keer terug op 4 September.

Argentinië is allerweë bekend as die wieg van herlewingslandbou. Hierdie toer is ’n gulde geleentheid om idees by wêreldleiers te kry oor hoe om dié stelsels in jou eie boerdery te laat werk. Die toerprogram is toegespits op herlewingslandbou en die kombinasie van boerdery met lewende hawe en saaiboerdery.

Toerlede sal ook op twee na die grootste landbouskou in Argentinië besoek in ’n gebied wat vergelykbaar is met die sentrale produksiegebied van Suid-Afrika.

Klik HIER vir die volledige toerprogram, koste en om te bespreek.

Hendrik Jordaan van Laurik International sê:

’n Aktiwiteit, soos die landbou, wat al meer as 2 000 jaar as stabiel, onveranderd en amper vervelig beskou is, is in die 21ste eeu een van die mees dinamiese, opwindendste en noodsaaklikste bedrywe in ons samelewing.

Met stygende produksiekoste, nuwe kultivars, weerstandbiedende onkruid en graanpryse wat elke minuut verander, moet boere hulself beywer om die maksimum opbrengs te lewer. Dit moet ook só gedoen word dat daar genoeg hulpbronne is vir die geslagte wat ná ons die wêreld moet voed.

Argentinië lê nes Suid-Afrika in die Suidelike Halfrond en het ook beperkte ekonomiese en klimaatshulpbronne. Dié land het reeds in 1977 ’n ekonomiese en produktiewe werklikheid beleef wat boere verplig het om geenbewerkingsmetodes te begin gebruik. Sedert 1996, met die gebruik van Monsanto se Round-up Ready-sojabone en Round-up-onkruiddoder, het geenbewerking eksponensieel gegroei tot waar dit vandag meer as 90% van Argentinië se bewerkbare oppervlakte beslaan.

Argentinië se graanproduksie het oor die afgelope 15 jaar meer as verdubbel van net onder 50 miljoen ton graan tot sowat 120 miljoen ton. Daar is ook meer as 50 miljoen beeste in die land.

Dit is egter nie alles maanskyn en rosegeur nie. Boere moet deurentyd hul stelsels en metodes verbeter om by nuwe politieke en ekonomiese werklikhede aan te pas en nuwe tegnologie en produkte te gebruik. Die land is ook nie op so ’n ontwikkelingsvlak dat sy boere op gewone stelsels kan vertrou om hul probleme op te los en hul werktuie te herstel nie. Boere moet dus op hul eie vaardighede en inisiatiewe staatmaak.

Ons nooi Suid-Afrikaanse boere graag uit om te kom kyk hoe herlewingslandbou in Argentinië toegepas word en hoe die stelsel ná meer as 40 jaar lyk sodat hulle uit ons ervaring kan put.

Die reisplan is só saamgestel dat ons saam met mnr. Danie Slabbert die land van oos na wes verken, van die streke met die hoogste reënval en die vrugbaarste grond, die sogenoemde nat Pampas, tot in die droër weste, waar saaiboerdery net moontlik is danksy geenbewerking en dit noodsaaklik is om veeboerdery en saaiboerdery gesamentlik te gebruik.

Ons nooi u uit om deel te wees van hierdie avontuur en te kom leer by ’n land waar boere ons hartstaal praat, al het hulle nog nie van Afrikaans gehoor nie en kan hulle ook nie Engels praat nie.

Danie Slabbert van die Riemland-studiegroep sê:

Ek boer al die afgelope 18 jaar op die plaas Van Rooyenswoning in die Oos-Vrystaat naby die dorp Reitz. Ek het ’n gemengde boerdery wat bestaan uit mielies, soja, koring, sonneblomme en besproeiingsaartappels. Vanjaar het ek ook ultrahoëdrukstrookbeweiding met Drakensbergerbeeste begin toepas. Ek doen dit om my grond saam met dekgewasse op te bou.

Die afgelope tien jaar pas ek al bewaringsboerdery en geenbewerking toe en ek doen ook presisieregstellings. Ons kyk na die grond as ’n lewende hulpbron pleks daarvan om dit net as ’n medium te sien.

Ek is baie opgewonde oor die reis na Argentinië! Dit gaan ’n groot voorreg wees om boere te besoek wat al 40 jaar met hierdie stelsels besig is. As ek sien wat ná 10 jaar met my grond gebeur het, het ek hoë verwagtinge van die plase in Argentinië. Nog ’n bonus is beslis om die toerusting te sien wat oor die dekades vir hierdie praktyke ontwikkel is.

Hulle sê dit kos 10 jaar om 10 jaar se ervaring te bekom; jy kan dit nie in vyf jaar verkry nie. Met hierdie toer het ons egter die voorreg om 40 jaar se ondervinding te gaan beleef en te sien wat die moets en moenies in die bedryf is. Só kan ons insig kry oor wat die volgende 30 jaar op ons wag.

Van die besoekpunte sluit proewe met dekgewasse in. Daar gaan ons leer hoe dié proses die opbou van koolstof en organiese materiaal in die grond bespoedig.

Kom leer by die manne met 40 jaar se ondervinding en kry sodoende ’n voorsprong. Ons wil almal mos vir altyd boer!