Cele het Dinsdag, saam met me. Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, die vermoorde mnr. Brendin Horner se ouers besoek en daarna ’n groep leierboere en veiligheidverteenwoordigers van die Oos-Vrystaat toegespreek. Hy het belowe dat hy binne 21 dae sal terug wees met ’n plan om veediefstalsindikate en korrupte polisielede in die gebied hok te slaan.

Cele ontken dat die gebeure in Senekal en die feit dat die boerderygemeenskap eise aan hom gestel het, druk op hom geplaas het.“Ek het die plakkate gesien, Cele must fall. Maar dit is nie hoekom ek hier is nie. Ek is hier om met julle te vergader en planne te beraam.”

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, wat Dinsdag se vergadering bygewoon het, dink tog dat Cele aangespreek is oor sy houding teenoor boere op sy onlangse besoek aan Normandien en dat die regering skrikkerig is ná die gebeure op Senekal. “Dit is jammer dat dit eers so moes gaan voor ons politieke belangstelling gekry het. Maar die besoek vandag en die belofte van verdere opvolg beklemtoon die erns van die optrede by Senekal.”  

Mnr. Bheki Cele in gesprek met mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee

As die polisievoertuig nie gebrand het nie, was Cele nie Dinsdag in die Oos-Vrystaat nie, sê mnr. Tinus Oosthuizen, landelike veiligheidsbestuurder op Senekal. “Dit lyk asof dit dalk nodig was. Maar dit is baie jammer dat daar groepe mense van ander plekke gekom het, moeilikheid kom maak het en toe vir ons in Senekal met groot rassespanning en probleme gelos het. Oos-Vrystaatse boere wil nie konfrontasie met die polisie hê nie. Ons het mekaar baie nodig. Die afgelope week het ons hard gewerk en baie moeite gedoen om die gemeenskap weer bymekaar te bring. Nou vra ons mense mooi, bly eerder weg uit Senekal. Asseblief.”

Mnr. Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, het bygevoeg dat boereverenigings in sy distrik nie enige byeenkoms vir komende Vrydag se hofverrigtinge in Senekal beoog nie.“ ’n Punt is gemaak by die vorige protesaksie in Senekal. Ons het vandag ’n oor gekry en dit is ’n reusestap in die regte rigting. Dit beteken nie ons sal ons druk op die minister en regering verslap nie. Ons soek optrede. Ons soek ’n behoorlike ondersoekspan wat kom en skuldiges vasvat. Ons kan egter nie nou toelaat dat hierdie gunstige wending beduiwel word deur swak gedrag en afbrekende opvolgstories uit Senekal nie. Almal moet verstaan, ons is nie besig met speletjies nie. Boere hier baklei teen bendes. ’n Mafia. Mense van buite moenie nou ’n klein oorwinning kom versuur nie.”