Dit het die reënpotensiaal vir Suid-Afrika ’n groot hupstoot gegee, met goeie kanse op wydverspreide buie, veral in die uiters droë westelike dele van die land.

Noord-Kaap

Foto’s van strome water en kinders in diep poele water het die week van baie dele van die Noord-Kaap gekom. 

Mnr. Willem Fourie, wat tussen Olifantshoek en Upington boer, se drie kinders kon vir ’n wyle in die plaaspad swem nadat net meer as 50 mm daar geval het. “Ons het mooi reën gehad sedert September en staan nou al op 216 mm van toe af. Die veld lyk baie mooi. Mens kan nie dink dit is dieselfde plek as ’n jaar of twee gelede nie. Ek soek nog die woorde om my gevoel te beskryf. Dit voel asof ‘dankbaar’ alleen dit nie goed genoeg beskryf nie.

“Moerse dankbaar? Ja, dit is al nader, maar dit vat nog nie die verligting heeltemal raak nie.”

Tussen Olifantshoek en Upington. Foto: Willem Fourie
Tussen Olifantshoek en Upington. Foto: Willem Fourie
Tussen Olifantshoek en Upington. Foto: Willem Fourie

Rondom Olifantshoek het dit by tye swaar gereën en die dorp se strate was selfs ’n ruk onder water. Vanuit Postmasburg, Prieska, Kenhardt, Kakamas, Britstown, Calvinia en so wyd as Victoria-Wes het blye tydings gekom. Vir wingerdboere rondom Kanoneiland, Keimoes, Kakamas en Augrabies was die swaar reën problematies aangesien hulle in die middel van hul oes- en paktyd is. Talle wingerde het verspoel en paaie is oorstroom nadat sowat 100 mm in die gebied geval het. 

In die Boesmanland en Bo-Karoo het boere die hemele en weervoorspellings angstig dopgehou. Sommige was gelukkig, maar baie nie. 

Vanaf Pella het mnr. Lionell Cloete laat weet dat hulle daarlangs ’n “skaflike buitjie” gehad het. “Ons droogte is nog nie verby nie, maar ons ruik darem weer ’n slag die nat aarde en dit gee ons sommer krag.” Hy sê die droë rivierlope rondom Pella het sterk begin loop nadat meer reën Pofadder en Aggeneys se kant toe geval het. 

Suid van Pofadder het dit egter streperig en heelwat minder gereën en ’n moedige me. Alida van Niekerk sê hulle is dankbaar oor die tot 10 mm wat hulle gemeet het. “Dit het nou nie daai hoë nommers gereën hier in die suide van Pofadder nie. Oor een kamp het wel 32 mm geval en op twee ander plase weer niks nie. Maar ons gemoedere is baie ligter en my man (Wilhelm) is sommer optimisties. Hy glo dat ons in ’n stadium hierdie jaar vir die liewe Vader gaan sê, dankie, nou het ons genoeg reën gehad.”     

Na Loeriesfontein se kant toe het dit plek-plek genoeg gereën dat plasse gevorm het. Me. Chrismari van der Westhuizen sê by hulle, noord van Loeriesfontein, het ’n gedeelte van die plaas 22 mm gekry. “Maar in die weste van Boesmanland, waar ons ook boer, is dit steeds woestyn.”

In die Karoo het die jaloersbuie ook by baie desperate oë verbygeskuur. Terwyl heelparty boere om Calvinia, Middelpos en Fraserburg jubel oor tot 65 mm, is die boere nader aan Williston en Carnarvon alweer oorgeslaan. 

Mnr. Juan Louw, tussen Carnarvon en Williston, sê hulle het net 4 mm gemeet. “Ons het soos verslaafdes die weervoorspellings dopgehou toe ons sien hierdie groot weer kom na ons kant toe. Nou ja, ek kan maar die weer-apps van my foon afvee, want dit het regtig baie tyd gemors.” Hy sê hulle is steeds vol moed, want dit is die eerste keer in baie jare dat die weer so vroeg in die seisoen opsteek.

Vrystaat

Drie dae se aanhoudende reën het gesorg dat dele van die Vrystaat onder water is. In die omgewing van Bultfontein, Hoopstad en Heilbron het lande verspoel en ’n paar plaashuise word ook omring deur massas water. Mnr. Piet Fereirra, wat buite Bultfontein boer, het aan Netwerk24 gesê dat “dit chaos is en paaie heeltemal onder water is” in hulle omgewing.

DCIM\100MEDIA\DJI_0007.JPG
Bultfontein. Foto: Amari Bonrman
DCIM\100MEDIA\DJI_0011.JPG
Bultfontein. Foto: Amari Bonrman
DCIM\100MEDIA\DJI_0001.JPG
Bultfontein. Foto: Amari Bonrman

Me. Amari Bornman, wat tussen Bultfontein en Hertzogville boer, sê hulle het al 115 mm vir Januarie gehad. “Die water het omtrent geloop. Dit was ’n belewenis. Ons mielies lyk baie mooi, hoewel ons seker nou versuipskade sal hê.” Die Bloemhofdam is aan die oorloop ná die week se reën. In dele van die Vrystaat is al 500 mm gemeet sedert Oktober.