Die sake, wat deur Agri SA ondersteun is, spruit voort uit grondeise by Melmoth in KwaZulu-Natal en Moloto noord van Pretoria.

Met die Melmoth-eis het die staat en die grondeienaars se waardeerders aanvanklik ooreengekom op ’n vergoedingsbedrag van meer as R760 miljoen. Die waardeerder-generaal (WG) se waardasie was egter baie laer op R420 miljoen, gegrond op sy formule ingevolge die regulasies ingevolge die Wet op Eiendomswaardering (Wet 17 van 2014).

Me. Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het aangevoer dat sy verbind is tot die WG se aanbod en dat die hof nie jurisdiksie oor vergoedingsake het nie. Regter A.J. Canga het egter beslis dat die minister ’n groter vergoedingsbedrag mag toestaan en dat die hof by magte is om oor die vergoeding te beslis.

“Die implikasie van hierdie uitspraak is diepgaande aangesien die boelie-taktiek stopgesit is,” sê me. Annelize Crosby, hoof van beleid en grondsake by Agri SA.

“Die oppergesag van die reg en boere se reg tot regverdige en billik vergoeding is hiermee bekragtig. Die WG het ’n baie arrogante standpunt ingeneem dat die hof nie tot ’n ander beslissing oor vergoeding kan kom as dit wat die WG bepaal het nie en die minister het die standpunt ondersteun. Dit was verregaande, want dit maak inbreuk op die beginsel van skeiding van magte waarop ons hele regsbedeling gebou is. Hulle is tot orde geroep en ek sal nie verbaas wees as mnr. Christopher Gavor se bedanking as WG met die uitspraak verband hou nie.”

Sy sê Agri SA sal betrokke bly by toekomstige sake ter ondersteuning van sy lede en alle Suid-Afrikaanse boere.

In die Moloto-uitspraak in Februarie het die Grondeisehof ook beslis dat ’n hofbeslissing oor regverdige en billike vergoeding nie ondergeskik is aan ’n waardasie van die WG nie. In dié saak was daar ’n vroeëre hofbevel dat die hof oor vergoeding moet beslis, maar die staat wou hê die minister moet hou by ’n latere waardasie van die WG.

Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, sê kenners het lankal gemeen die WG kan nie vergoeding bepaal en die howe uitsluit nie. Die Grondwet bepaal daar moet oor vergoeding ooreengekom word, of dit deur die hof bepaal word of deur die hof goedgekeur word.

“Dit is nou bevestig dat ’n waardasie deur die WG nie die rol van die howe vervang om as finale arbiter vir die berekening van vergoeding vir onteiening op te tree nie.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.