Mnr Johannes de Lange, ’n boer van die plaas Steenbokvlakte naby Kirkwood, en een van sy familielede is in die voorval beseer, luidens ’n verklaring van Agri Oos-Kaap. Albei is herhaaldelik met ’n mes gesteek en word tans in ’n nabygeleë hospitaal behandel. 

Volgens Algoa-FM het De Lange een van die aanvallers se vuurwapens in die hande gekry, waarna een van die aanvallers doodgeskiet en ’n ander gewond is (bit.ly/3bWuAWm).

Van die aanvallers is deur die polisie aangekeer, terwyl die ander volgens Agri Oos-Kaap steeds voortvlugtig is.

Agri Oos-Kaap spreek sy medelye met De Lange en sy familie uit en veroordeel die aanval ten sterkste. 

Hy loof die polisielede en gemeenskap se landelike veiligheidsverteenwoordigers vir hul reaksie op die aanval. “Hul briljante reaksie en inisiatief het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagtes wat van die misdaadtoneel gevlug het.”

Landelike veiligheid nie prioriteit

Die Vryheidsfront Plus het in reaksie op die aanval skerp kritiek teenoor die regering gelewer.

Mnr. Piet Mey, VF Plus-LP en leier in die Oos-Kaap, sê plaasaanvalle soos hierdie moet voor die deur van die ANC-regering gelê word, aangesien dié soort misdaad beperk kan word as spesialis-eenhede teen plaasaanvalle op die been gebring word.

“Die roekelose uitsprake van die ANC-regering en ander partye met betrekking tot grond en onteiening is onverantwoordelik en sweep emosies op. Die VF Plus dring daarop aan dat spesialis-eenhede gestig en ondersteun word om na die veiligheid van boere om te sien.”

’n Bejaarde boer van Kirkwood is in Desember tydens ’n plaasaanval gewond nadat hy en sy vrou deur vyf mans oorval is. Nog ’n bejaarde egpaar is in November op hul plaas oorval.