Brig. Sam Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die boer, mnr. Gert Terblanche (68), het die verdagtes in sy bakkie na die veld geneem om ’n skaap te vang. Nadat hulle die skaap gevang het, het hulle deur die veld na Heilbron gery.

“Een van die verdagtes wou water afslaan. Die boer het stilgehou en die verdagte het van die bakkie afgeklim. Die volgende oomblik het die verdagte aan die bestuurderskant van die bakkie verskyn en ’n vuurwapen op die boer gerig. Die ander verdagte het ’n mes uitgehaal.

“Hulle het ’n ketting met ’n slot om die boer se nek en sy hande gesit. Hulle het ook sy hande met toue vasgebind. Hy is beveel om op die passasiersitplek te sit. Hulle het probeer om met die bakkie weg te ry, maar dit het sowat 20 meter verder doodgeruk.

“Hulle het die boer toe na die lang gras in die veld gesleep en gedreig om hom dood te maak. Hulle het hom na die bakkie teruggesleep, op die passasiersitplek laat sit en die ketting aan die tralies agter op die bakkie vasgemaak.”

Volgens Netwerk24 het die twee aanvallers die bakkie se battery uitgehaal en dit probeer oopmaak om die suur in Terblanche se oë te gooi. Die battery was egter geseël en hulle kon dit nie oopkry nie. Hulle het toe te voet gevlug.

Makhele sê twee ander boere het die verdagtes opgemerk en hulle by sekureitsdienste en die verkeerspolisie aangemeld. Die verkeerspolisie het die polisie ontbied. Die twee verdagtes is aangekeer. ’n Gesteelde selfoon, petrolkaart, pepersproei, bakkiesleutels, afstandbeheerder en R2 580 kontant is in die verdagtes se besit gevind.

’n Saak van gewapende roof en roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen word ondersoek.