Drie navorsers verbonde aan die Universiteit Kaapstad (UK) is hierby betrokke. Hulle is die seewierkenner en emeritusprofessor John Bolton, die molekulêre bioloog dr. Brett Macey en die akwakultuurkenner dr. Mark Cyrus.

Laasgenoemde twee is erenavorsingsgenote van die UK, en werk heeltyds vir die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye.

“Sommige take wat deel is van die navorsingsprojek, word uitgevoer by die staat se marienenavorsingsakwarium in Seepunt, terwyl studies wat op kommersiële skaal gedoen word, op die Buffeljags-perlemoenplaas (naby Gansbaai) plaasvind,” sê Bolton.

Die nodige geriewe vir ’n toetsprojek is reeds by Viking Aquaculture se Buffeljags-eenheid, waar perlemoen volgens IMTA gekweek word, voltooi. Daar gaan gekyk word hoe goed seepampoentjies en seekropslaai (Ulva rigida) saam kan vaar.

Die spesifieke soort seepampoentjie waarmee gewerk word, Tripneustes gratilla, kom natuurlik langs die Suid-Afrikaanse kus voor. “Die nodige proefpermitte is gereed, en ons gaan hopelik vandeesweek reeds die eerste seepampoentjies in die stelsel sit,” sê Cyrus.

“Dit is aanvanklik slegs ’n toetsprojek, dus sal produksie eers laag wees vergeleke met die huidige kommersiële perlemoenboerdery daar.” Hy meen die stelsel behoort sowat 2 ton seepampoentjies per produksiesiklus van 12 maande te lewer.

Bolton beskryf IMTA as ’n voorbeeld van landbou-ekologie omdat ekologiese beginsels toegepas word om voedselproduksie volhoubaarder te maak. “Dit koppel kommersiële spesies op ver- skillende vlakke van die voedselketting, en gebruik afval wat een spesie produseer om ’n ander te voed.”

Volgens Bolton steun die bestaande projek op vorige suksesvolle seepampoentjie-navorsing wat Cyrus en die span gedoen het om innoverende tegnologie vir telery en groei te ontwikkel.

Die IMTA-proses word aangepas om boerdery met seepampoentjies so goed moontlik te laat verloop. Dié stekelrige seediertjies het oor die afgelope jare al hoe gewilder onder kosliefhebbers geraak.

Natuurlike bevolkings daarvan raak daarom toenemend onder druk. Dit is veral hul eiers wat gewild is, en die vleis word as sasjimi geëet. Die Japannese mark gebruik 80% van alle seepampoentjies wat wêreldwyd gelewer word.

Die UK-span hoop dat hy dieselfde sukses met die boerdery van seepampoentjies vanaf die larwestadium af sal kan behaal soos wat met perlemoen die geval is.

Kommersiële IMTA-bedrywe is nog taamlik nuut in Europa, maar word reeds die afgelope twee dekades by Suid-Afrikaanse akwakultuurplase toegepas.

Die IMTA-navorsing op Buffeljags is deel van ’n veel groter projek, All Atlantic Ocean Sustainable, Profitable and Resilient Aquaculture (Astral). Dié projek word deur die Europese Unie gefinansier.

Deur Astral word beoog om volhoubare akwakultuurwaardekettings in die Atlantiese Oseaan-gebied te skep. Laboratoriums in Brittanje, Ierland en Suid-Amerika werk saam aan die projek, wat tot 2024 sal duur.

Die Suid-Afrikaanse IMTA-laboratorium word bedryf deur die vennootskap van Bolton, Cyrus en Macey, tesame met Viking Aquaculture, wat ’n vennoot in Astral is.

Die drietal van die UK meen dat die kweek van seepampoentjies die Suid-Afrikaanse akwakultuurbedryf verder kan uitbrei. Die bedryf se klem is tans grootliks op perlemoen en ander hoëwaardespesies, soos mossels, oesters en forel.

“Echinokultuur bied nuwe moontlikhede,” meen hulle. Heelwat buitelandse valuta word verkry danksy die verkoop van hoëwaardespesies wat tans op akwakultuurplase in Suid-Afrika gekweek word.

Die grootste mark daarvoor is in Asië. Volgens Macey het die perlemoenvertakking reeds teen 2018 35,9% (1 522,2 ton) bygedra tot Suid-Afrika se totale akwakultuurproduksie van 6 365,8 ton (seewier uitgesluit).