Die toekoms van boerdery lê in tegnologie, maak nie saak watter tipe boerdery dit is nie, sê mnr. Charl Senekal, voorsitter van Pro-Agri (die vereniging wat voormalige Nasionale Boer van die Jaar-wenners verteenwoordig) en bekende suikerrietboer van Mkhuze in KwaZulu-Natal.

Hy het tydens ’n besoek van landbouskrywers aan verlede jaar se wenboere, mnr. André Ernst en sy seuns, Zander en Edrean, van Allesbeste Boerdery in Tzaneen, gesê  tegnologie moet ’n boer se beste vriend word.

“Oor die volgende klompie jare gaan selfone boerderye oorneem. Jy gaan alles van jou foon af kan beheer, al sit jy in Amerika. Jy sal jou banksake kan hanteer, jou besproeiingstelsels kan aanskakel en kan sien waarmee jou werkers besig is. As jy dink jy is BC (before computers) gebore, is ek jammer vir jou. Jy sal eenvoudig moet opvang.”

Noue band bestaan

Senekal sê’n noue band bestaan tussen boere en landboujoernaliste. “Sonder dat julle eintlik daarvan bewus is, is julle die verspreiders van tegnologie internasionaal. ’n Goeie voorbeeld hiervan was die onlangse wêreldkongres vir landboujoernaliste waar 160 landbouskrywers uit meer as 30 lande in Suid-Afrika byeen was. Julle vertel wat boere in ander lande doen, en ons kies dít wat ons plaaslik kan benut.”

Hy sê die res van Afrika is ook honger vir kos, kennis en tegnologie. Ook daar kan landbouskrywers ’n rol speel. Soos wat die rol van groot kommersiële boere in Suid-Afrika ook besig is om te verander.

“Ons kyk na Afrika en Afrika kyk na ons. Hull sê kom help ons produseer. In Suid-Afrika gaan slaap 17% van die mense honger. In ’n land soos Zimbabwe is dit 47%. Dit plaas die waarde van ’n groot produsent in perspektief.

Voedselprobleme oplos?

As 10 van Suid-Afrika se megaboere in Zimbabwe, Zambië en Namibië moet intrek, sal alle voedselprobleme daar binne twee jaar opgelos kan word.”

Magda du Toit, voorsitter van Landbouskrywers SA, het by dieselfde geleentheid die verhouding tussen landbouskrywers en die Boer van die Jaar-wenners beskryf as ’n lappieskombers wat saam een groot warm eenheid vorm. “Elke jaar kom daar ’n lappie by wat anders lyk as die ander maar saam vorm dit ’n mooi eenheid wat al groter word.”