Die parlement se portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur het mondelinge kommentaar aangehoor oor die wysigingswetsontwerp op onteiening (B23 van 2020) wat die omstandighede aandui waar ’n hof mag bepaal dat nulvergoeding betaal mag word wanneer grond vir openbare doeleiendes onteien word.

Die parlement se ad hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet het op dieselfde dae ook mondelinge kommentaar aangehoor rakende die voorgestelde 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat ten doel het om onteiening met nulvergoeding vir die doeleindes van grondhervorming, duidelik daarin te skryf.

Agri SA het dit reeds duidelik gemaak dat hy gekant is teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet en onteiening met nulvergoeding.

Crosby wys uit die moderne benadering tot vergoeding is gegrond op die beginsel van gelykheid in die dra van openbare laste. Gelykheid rakende ’n openbare las is ’n beginsel wat deur die Franse, Duitse en Amerikaanse reg aangeneem is. Hierdie benadering is wanneer een of meer individue die verlies van eiendom vir die algemene welsyn moet dra, moet hul individuele en oormatige las deur die staat vergoed word.

Ekonomiese gevolge

Dr. Roelof Botha, ’n ekonomiese adviseur, het namens Agri SA toekomstige scenario’s uitgewerk oor die moontlike makro-ekonomiese impak wat onteiening met nulvergoeding op Suid-Afrika sal hê.

Hy het uitgewys dat ’n afname in die erkenning van eiendomsreg belegging in kapitaalverbeterings van grond in die primêre én die sekondêre landbou in gevaar sal stel.

Die finansiële sektor sal sy risikoblootstelling in die landbousektor hersien, aangesien dit hierdie bate van sy waarde beroof en sal diversifiseer in ander gebiede van die ekonomie. Boere sal nie die sekuriteit hê om hul lenings te ondersteun nie, wat sal lei tot disinvestering in die sektor.

Hy het scenario’s geskets waar hy uitwys dat met ’n afname van 5% tot 10% in kapitaalvorming sal Suid-Afrika in ’n resessie gevange bly. As onteiening met nulvergoeding egter nie ingestel word nie, sal die ekonomie vanjaar met 4% of selfs meer groei. “As ons grondhervorming verkeerd aanpak, sal ons in ’n resessie bly en werkloosheid sal waarskynlik tot 50% spring.”

Vrystaat Landbou het aangedui dat hy die wysigingswetsontwerp op onteiening verwerp.

Besigheideenheid Suid-Afrika (Busa) en Agbiz het in hul gesamentlike voorlegging aangedui dat hulle in die breë die wysigingswetsontwerp ondersteun, maar is bekommerd oor die impak wat nulvergoeding op beleggersvertroue en finansies sal hê. Hulle is gekant teen nulvergoeding en is ook onseker waarom net sekere eiendomme uitgesonder word.

Hulle glo grondhervorming kan bereik word sonder dat nulvergoeding toegepas word.