Swart sê hoewel die einde van die seisoen in sig is, is dit steeds baie warm. Sitrus- en wingerdboere wat na-oesbemesting moet toedien, asook boere wat hul wingerde as gevolg van die droogte uitgehaal en kontantgewasse soos groente aangeplant het, het nog water nodig.

clanwilliamdam
Die Clanwilliamdam soos afgeneem in die week van 17 Februarie 2020. Foto: Agri Wes-Kaap

Hy sê daar is ’n moontlikheid dat boere aan waterbeperkings onderwerp kan word as die damvlak tot by 25% daal. Volgens hom is daar ook nog nie duidelikheid oor wanneer bouwerk aan die Clanwilliamdam gaan begin nie en daar is geen waarborg dat dié bouwerk wel sal gebeur nie.

Die departement van water en sanitasie het verlede jaar gesê bouwerk sal in Maart 2023 afgehandel wees. Die oogmerk met die projek is om die damwal 13 m hoër te maak en sodoende die bestaande kapasiteit te verdubbel. Dié verhoging sal dit moontlik maak om ’n bykomende 5 000 ha landbougrond te besproei.

Die projek het egter uit die staanspoor verskeie probleme gehad. Die departement se bou-eenheid het in September 2016 werk aan die damwal stopgesit omdat me. Nomvula Mokonyane, die voormalige minister, op ’n tenderproses aangedring het.

Bouwerk sou in September 2018 hervat word, maar dit is tot Oktober uitgestel omdat enkele uitstaande kwessies, soos boupermitte, nog mnr. Gugile Nkwinti, destyds minister van water en sanitasie, se aandag nodig gehad het. Die gesloer met die projek het nie net tot gevolg dat landbou-uitbreidings nie kon voortgaan weens ’n tekort aan water nie, maar dit het ook belastingbetalers tot nou toe R100 miljoen uit die sak gejaag.

Volgens die departement kan daar nog vertragings en struikelblokke wees gedurende die vyf jaar wat die projek kan duur.

Swart sê Agri Wes-Kaap sal dit verwelkom as die bouwerk begin aangesien die gebied ’n groot sitrusproduserende streek met die ideale klimaat daarvoor is, “maar water bly die kwessie”.

Hy sê ongeveer 5 000 ha tussen die Bulshoek- en Clanwilliamdam kan met ’n waterkwota hoëwaarde-uitvoergewasse soos sitrus en tafel- en wyndruiwe verbou en geleenthede vir grondhervormingsprojekte en die vestiging van nuwe boere skep.