Dit is die gevoel van magteloosheid wat ’n mens vang. Dat jy die petalje in Suid-Afrika so moet sit en dophou tot iemand iets regtig doms aanvang. Ek bedoel, iets heelwat dommers as al die baie dom goed wat ons al in die afgelope paar jaar aangevang het.

Neem maar Eskom. Om dié instelling voor te hou as ’n toonbeeld van doeltreffendheid onder staatsinstellings, is verregaande. Maar om dan daardie fantasie van doeltreffendheid te gebruik as die rede om Brian Molefe, die erg bedenklike voormalige uitvoerende hoof van Eskom (wat reeds lekker reëls gebreek het om die Guptaboeties se sakke vol te kry), weer aan te stel, is net pateties.

Skade

Eskom is immers die instelling wat regstreeks verantwoordelik is vir duisende werkverliese weens sy ongeërgde houding jeens beplanning, soms doelbewuste onbeholpenheid en ander kere bloot diefstal. Die uiteinde is dat die private sektor eers gesmeek is om minder krag te gebruik en toe summier in kennis gestel is dat hy eenvoudig nie meer krag gaan kry nie.

Dít by van die grootste kragverbruikers (en indiensnemers), soos smelters en myne. Vandag is die ligte dalk nog aan, maar daar is ’n dolk deur die ekonomie se hart. Dit is allermins ’n sukses, mnr. Molefe, dit is ’n tragedie.

Die enigste geluk by die reuse-ongeluk is dat Eskom se onbevoegdheid die private sektor genoop het om by die kragsektor betrokke te raak. Vandag is die onafhanklike kragvoorsieners ’n wêreldmodel van samewerking tussen die staat en die private sektor.

Maar wag, ons probeer mos nou dié se keel ook afsny sodat ons ’n mark vir die Guptas se onbruikbaar swak steenkool en die Russe se peperduur kernkrag kan vestig. ’n Lekker voerkrip vir al daai staatskripveters. En met ’n verkiesing wat nader sluip, is die manne gretig om nog soveel te skep as wat hulle kan. Ja-nee, pateties.

Wie is ons?

Waar ons nou staan, is die eintlike kruispad waarby Suid-Afrika as land destyds in 1994 gedink het hy staan. Nou gaan ons sien van watter stoffasie ons eintlik gemaak is en of die slegte ouens uiteindelik maar gaan seëvier. Is ons regtig so uitsonderlik soos wat ons nog altyd voorgee?

Idees, soos radikale ekonomiese transformasie en grondonteiening sonder vergoeding, sit Suid-Afrika reeds in die kraal van onsinnigheid. Sekerlik weet ons almal dat die land se handelsbanke, die ruggraat van die ekonomie, nie die slag van landbougrond wat gekonfiskeer word, sal oorleef nie.

As die landbougrondmark verdwyn, gaan die veel, véél groter voorstedelike huismark ook tuimel, en dan is daar geen omdraaikans nie. So baie boere neem maar daardie ektra geld en stuur dit na die eiland Man, pleks van om ’n ekstra stuk grond te koop, soos in die res van die ekonomie.

Die private sektor hou honderde miljarde rande se kontantreserwes wat hy in Suid-Afrika sou belê het indien die politici hom meer sekerheid gegee het. Dít word niemand egter gegun nie. Daarvoor is die politiekmakery en die maklike lewe op die rug van die belastingbetaler veels te lekker!

Om dié gemors dop te hou, is erger as om deesdae na die Blou Bulle te kyk. Dalk is dit tyd dat boere begin grond gryp. Dalk is ’n goeie plek om te begin daardie 4 000 plase wat min. Gugile Nkwinti nie uitgedeel kan kry nie. Gaan beset hulle en maak hulle weer produktief. Net om te wys ons is nie almal so lamsakkig soos die Regering nie.

* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 2 Junie.