Eskom en Nersa, die nasionale energiereguleerder, moet egter hul prosesse vir verbinding vinniger afhandel, minstens binne hul eie tydsriglyne, sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se afdeling vir ekonomie en handel.

Slegs 13 sonplase in die landbousektor is tot dusver aan die netwerk verbind, en dít het drie frustrerende jare geneem. “Dit is onaanvaarbaar,” sê Jansen, ook voorsitter van Agri Noord-Kaap, vir wie die kwessie ’n persoonlike doelwit geword het. Hy beywer hom vir ’n spoedige proses vir boere met sonkragaanlegte wat minder as 1 MW opwek en nie vir lisensies hoef aansoek te doen nie, maar bloot by Nersa moet registreer.

Volgens Jansen kan boere met sulke aanlegte help om bedags beurtkrag te voorkom, juis wanneer die ekonomie die ergste daaronder ly. Boere kan ook hul eie energiekoste bestuur en energiesekerheid vir hulself skep.

BLY OP DIE NETWERK

Dit is vir hom belangrik dat boere aan die netwerk verbind bly. “Ek is nie ’n voorstander van geïsoleerde sonkrageenhede nie. Op lang termyn is dit nie goed vir ons land nie. Netwerkverbinding hou voordele vir die breë ekonomie in. By Europese netwerke, wat ons vêr vooruit is met hernieubare energie, word die netwerkverbinde opsies gebruik, waardeur verskillende energiebronne beter ingeskakel kan word.”

In Suid-Afrika geniet baie huis- houdings, ondernemings en winkelsentrums wat hul krag van munisipaliteite kry, reeds die voor- deel om krag op die netwerk te kan opberg. Hulle kan dié krediete later gebruik en so hul kragrekenings verlaag. Buiten vir die dertien sonplase, word die landbou nog hiervan uitgesluit.

NEKSLAG VIR BEURTKRAG

Jansen sê Eskom stel fase 1-beurtkrag in wanneer hy 1 000 MW op die nasionale netwerk kort.

Agri SA weet van minstens 500 aansoeke deur boerdery-eenhede om sonkragaanlegte aan die netwerk te verbind. Na raming sou dié 500 aanlegte 1 400 MW kan opwek en sodoende fase 1-beurtkrag voorkom.

Jansen sê benewens die voordele vir die ekonomie, sal dit Eskom ook diesel bespaar. Sy gasturbines is ontwerp om in noodgevalle bykomende krag te lewer, maar weens die kragverskaffer se agteruitgang, loop die turbines nou dag en nag nét om in die basiese vraag te voorsien. “Dit kos Eskom ongeveer R3,50/kWh om met die gasturbines krag op te wek, terwyl hy krag teen ongeveer R1/kWh verkoop.”

Verder werk die turbines nou harder as waarvoor dit ontwerp is. “Dit verkort hul gebruiksduur drasties en verhoog ook die noodsaak vir gereelde onderhoud en herstel.”

STRUIKELBLOKKE

Jansen sê tot dusver was daar deurentyd regulerende beperkings om aanlegte vir hernieubare energie aan die netwerk verbind te kry. Die laaste struikelblok is verwyder toe die Nersa-registrasietarief van R200 einde Februarie goedgekeur is. Daar moet nog gesien word hoe vinnig die Nersa-proses nou gaan vorder, maar die Eskom- proses duur reeds baie lank.

“Ons pleidooi is dat ’n aansoek binne een boekjaar afgehandel word. Dit is onaanvaarbaar dat boere wat reeds die koste aangegaan het om sonkragaanlegte te bou, en dus reeds die kapitaal en rente moet delg, moet wag vir goedkeuring en steeds hul volle Eskom-rekening moet betaal.

“Daar is baie boere wat om dié rede eers wag en kyk. Ons gaan alles in ons vermoë doen om druk op Eskom en Nersa te plaas, en beoog om mnre. Jeff Radebe, minister van energie, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hieroor te gaan sien.

“Ons wil ’n helpende hand na hulle uitreik, maar dan moet hulle toesien dat die prosesse vinnig verloop.” Jansen sê hulle verwag nie van Eskom om hom tot onbillike tydsraamwerke te verbind nie.

FASE 2 EN 3

Volgens Jansen sal nóg meer boere die oprigting van sonkrag- aanlegte oorweeg indien banke die aanlegte self as sekuriteit aanvaar, en nie ander sekuriteit soos grond vereis nie.

“Daar is reeds banke wat dit só doen. Ons wil banke graag motiveer om ’n produk hiervoor te ontwikkel. Ons verwag dat só ’n produk tot bykomende sonkragaanlegte sal aanleiding gee, en dat die landbou tot 3 000 MW sal kan opwek. Daardeur sal fase 2- én fase 3-beurtkrag voorkom kan word.”

HOE DIT WERK

’n Boer wat ’n netwerkverbinde sonkragaanleg oorweeg, nader eerstens ’n diensverskaffer vir ’n kwotasie. Jansen sê dit is belangrik om navorsing te doen en iemand te nader wat die Eskom- en Nersa-prosedure goed verstaan, en ’n produk van gehalte kan lewer. By aanvaarding van die kwotasie vra die diensverskaffer Eskom vir ’n kosteberaming.

Eskom gee ’n voorlopige aanduiding van die koste om die beoogde sonplaas aan die netwerk te verbind. As die boer die kosteberaming aanvaar, vra die diensverskaffer vir Eskom om ’n begrotingskwotasie voor te berei. Dit sluit ’n indiepte-ondersoek na die tegniese aspekte van die voorgestelde sonplaas in.

Wanneer die boer die begrotingskwotasie ontvang, doen hy aansoek om voorlopige registrasie by Nersa. Ná goedkeuring van Nersa verkry is, kan die diensverskaffer die sonkragaanleg bou. By voltooiing nader die boer Eskom vir die verbinding van die sonplaas, en doen aansoek by Nersa om finale registrasie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.