Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê Transnet se verlies aan diesel weens dié diefstal die afgelope paar maande beloop na raming al sowat R500 miljoen.

Esterhuyse het einde verlede jaar reeds aan Landbou.com gesê boere moet paraat wees vir dié misdaad wat aan die toeneem is. Die betrokkenes is georganiseer en weet waar pyplyne loop. Die pype word oopgegrawe en die betrokkenes het die nodige gereedskap en toerusting om diesel uit die pype te tap en om weer die pype te verseël.

In een van die jongste voorvalle het só ’n seël op ’n plaas in die distrik Heidelberg gebreek en ’n boer se mielieland het vol diesel gespoel. ’n Onbekende hoeveelheid diesel is verlore, aldus Esterhuyse. Nog ’n voorval het die week in Mpumalanga voorgekom.

Volgens Esterhuyse het talle boere dié tipe probleem die afgelope paar maande aangemeld. Diesel het mielies en die grond besoedel, wat tot verliese vir die betrokke boere lei.

Die probleme kom veral in Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng en Noordwes voor.

Esterhuyse sê belanghebbendes vergader binnekort om die situasie en toekomstige samewerking te bespreek om ’n oplossing vir die probleem te probeer vind. Agri SA se plaastoegangprotokol sal met alle belanghebbendes bespreek word.

Intussen word boere gevra om enige verdagte aktiwiteite by hul veiligheidstruktuur of plaaswag aan te meld en om nie die verdagtes self te konfronteer nie, aangesien hulle vermoedelik swaar gewapen is.