Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dié weer is die gevolg van die sterk kouefront wat van Donderdag 14 Junie oor die Wes-Kaap sal begin inbeweeg. 

“Kleinveeboere word gewaarsku dat die kombinasie van koue, nat en winderige toestande tot veevrektes kan lei. Diere moet voldoende beskut word voor die uiterste weerstoestande begin.” Volgens die weerdiens kan die windspoed in die binneland van die Noord- en Wes-Kaap Donderdagaand van 45km/h tot 93km/h wissel. 

Noordwestewinde van 65 km/h tot 70 km/h word Donderdag en Vrydag tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas voorspel. Soos die kouefront Vrydag oor die suid-oostelike dele van die land beweeg, word stormsterk suidoostewinde van 50 km/h tot 60 km/h en deinings van 5-7 m langs die Oos-Kaapse kus verwag. 

Oorstormings en koue toestande

Die weerdiens verwag dat 10 mm tot 25 mm reën op plekke kan val met met 30 mm tot 50 mm in bergagtige dele. Suid-Afrikaners word derhalwe gewaarsku teen oorstromings, modder- en rotsstortings wat kan voorkom.   Volgens die weerdiens sal die kwik in die hoërgeleë dele van die Wes- en Oos-Kaap, asook die suidelike dele van die Noord-Kaap, “aansienlik daal, met sekere gebiede wat baie koue toestande sal ervaar.” 

Namate die kouefront teen Saterdag oor Suid-Afrika beweeg, sal koue, droë lug oor die binneland beweeg, wat koue toestande in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga tot gevolg sal hê. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.