Mnr. Petrus du Preez, voorsitter van die Gamtoos-boerevereniging, sê die vallei het in Januarie en Februarie amper normale reënval gemeet. “Die verskil is egter dat dit onder die opvangsgebied (van die Kougadam) gereën het en nie in die opvangsgebied nie.”

Hy sê ’n goeie reënbui beteken besproeiing kan vir vyf of ses dae verminder of gestaak word, en só die dam se water spaar.

Boere moet reeds vir die derde agtereenvolgende jaar hul besproeiingsgewasse soos sitrus en groente met ingeperkte waterkwota’s grootmaak.

Twee jaar gelede was daar vrese dat die dam sou opdroog, ná die vlak tot amper 6% gedaal het.

Boere moes met die vorige waterjaar van 1 Julie 2018 tot 31 Junie 2019 met tussen 20% en 40% van hul kwota klaarkom. Groenteboerderye moes hul lantermynkontrakte vries of herbeding, of in gebiede buite die vallei, waar hulle toegang tot water gehad het, gaan plant.

Beter bestuur

“Sitrusboere moes leer om water beter te bestuur en het ander stelsels ingesit om dit beter te meet en bestuur. Ek weet nie wat is plan B of plan C nie, want ek dink ons het taamlik goed gedoen met die water wat ons toe gekry het,” sê hy. Alternatiewe opsies soos boorgate en damme onder die dam is baie skraal. “Indien ons nie die dam het nie, is ons hande taamlik afgekap met produksie en besproeiing.”

Met die huidige waterjaar se 85%-besproeiingskwota kon boere ’n gemiddelde oes vermag, en hy glo daar is nog genoeg water om die huidige oes te bemark.

Hy sê 99% van die sitrus in die Gamtoosvallei is onder drupbesproeiing en boere het hul stelsels verander van 3.5 liter per uur se toediening na 0.7 liter per uur. Die stelsels verg egter noukeuriger bestuur, tesame met aangepaste meetinstrumente en kontroles, wat ook baie kapitale uitgawes verg.

Ou nie-betalende boorde is met nuwe aanplantings vervang en die toegekende besproeiing is op hoër betalende sitrusboorde gebruik.

“Ek skat daar is van 30% tot 40% se jong aanplantings in die vallei, wat natuurlik help, maar hulle moet uiteindelik in produksie kom en dan hoop ons daar is genoeg water.” 

Stadsverbruik

Die nuus oor watervermorsing in Port Elizabeth maak hom kwaad en onrustig. Nagenoeg 40% van Nelson Mandelabaai, wat ook water uit die Kougadam gebruik, se skoon drinkbare water gaan weens lekkasies verlore.

“As jy dit nie eens tydens droogtetye kan beheer nie, wanneer gaan jy ooit leer om dit te beheer?”

Hy sê daar is ’n versoek ingedien om die Kougadam hoër te maak, maar hy glo nie daar gaan gou aandag geskenk word daaraan nie.

“Ons wil nie uitbrei nie en soek nie meer water nie; ons soek net standhoudende water.”

Volgens Du Preez is die reënseisoen in die vallei nog nie verby nie en is daar nog kans vir reën om die water aan te vul.