’n Komitee bestaande uit boere en die gemeenskap van Leeudoringstad is van plan om die perseel te koop en te omskep.

Mnr. Gerhard Rossouw, voorsitter van die Leeudoringstad-boerevereniging, het aan Landbouweekblad gesê die gebou staan tans leeg, en dat die boerderygemeenskap van plan is om dit in ’n landboukollege te omskep.

“Sedert die oorname van Suidwes Landbou deur Senwes het die dorp se ekonomie begin agteruitgaan, aangesien die hoofkantoor van Suidwes Landbou hier gesetel was en ’n groot werkskepper vir die omgewing was.

“Ons hoop dus om die dorp se ekonomiese toestand om te keer deur ’n volhoubare landboukollege te vestig,” het hy gesê.

BELANGSTELLENDES

Hoewel Senwes uiteindelik sowat 930 werkgeleenthede kon red, het die transaksie heelwat inwoners na Klerksdorp verplaas, wat die plaaslike ekonomie in Leeudoringstad geknou het. Mnr. Jaco Marais, tesame met Rossouw en mnr. Deon Berg het die veiling van die gebou in Johannesburg bygewoon. “En toe is ons die enigste geregistreerde belangstellendes.”

ln250221_N19_suidweshoofkantoor1_opt.jpg
Suidwes se hoofkantoor

Die boere het ’n aanbod vir die perseel gemaak, maar dit is nie aanvaar nie. Marais het gesê hulle het intussen ’n nuwe aanbod gemaak. Hy het gesê die perseel, wat benewens die kantoorspasie ook oor ’n gimnasium, klubhuis, rolbalbane, tennisbane en ander geriewe beskik, is ideaal om in ’n landboukollege omskep te word.

“Daar is ook ’n vergadering gereël tussen ons, Graan SA en AfriForum om maniere te ondersoek om die kollege tot stand te kan bring. Van AfriForum se kant af, met die Sol-Tech-opleidingsentrum, is daar heelwat kennis wat hier toegepas kan word, terwyl Graan SA as kommoditeitsorganisasie ook reeds te kenne gegee het dat hy graag by die projek betrokke sal wil word,” het Marais gesê.

GELEENTHEID

Hy het gesê dit is belangrik dat die volgende geslag boere reg opgelei moet word om die landbou te laat groei. “Ons kan nie meer ’n situasie hê waar die volgende geslag by hul pa leer en dan weer sy foute op die plaas herhaal nie. Ons sal moet wyer dink, en hierdie is ’n geleentheid om juis die volgende geslag ’n stewige grondslag te gee.” Benewens heeltydse studente, beoog Marais om ook korter kursusse aan te bied.

“Dit sal hopelik nie net die situasie in Leeudoringstad help omdraai nie, maar kan ook meer jong boere help oplei ten einde ’n wyer impak op die landbousektor te maak,” het Rossouw gesê.