Só sê mnr. Cobus van Coller, voormalige voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee, aan die vooraand van die 53ste Nampo-oesdag wat van 14 tot 17 Mei 2019 by Nampopark net buite Bothaville plaasvind.

Die jaarlikse landboutentoonstelling bied boere ’n blik op die nuutste tegnologie en werktuie wat te koop is. Van Coller sê dit het egter ook ’n spreekbuis vir die landbou geword met gesprekke en debatte wat op verskeie platforms plaasvind.

Tydens 12 jaar se diens by Nampo het Van Coller gesien hoe internasionale belangstelling daarin toegeneem het. “Talle internasionale maatskappye en groepe sien dit as die hek na Afrika, as ’n platform om ook elders op die vasteland sake te doen.” Tot 50 lande stal op die Nampo-oesdag uit.

Van Coller sê twee internasionale groepe wou al sake doen met die Nampo-handelsmerk. Een groep wou die Nampo-oesdag koop, terwyl ’n internasionale groep die handelsmerk Nampo wou koop en as ’n internasionale handelsmerk wou bedryf. “Nampo het ’n ongelooflike sterk naam internasionaal. Jy gaan baie boere in ander lande teëkom wat dalk nie van Suid-Afrika weet nie, maar wat al van die Nampo-oesdag gehoor het.”

Volgens Van Coller het talle internasionale belanghebbendes al opgemerk dat hulle kan sien Nampo is ’n gesinsgeleentheid met boere wat hul gesinne saambring vir ’n dag of meer op Nampo. 

Sewe uitstallers

Die Nampo-oesdag het in 1967 begin toe boere op die plaas Donkerhoek in die distrik Bloemfontein trekkers en planters met mekaar vergelyk het. “Daar was sowat 200 besoekers dié dag,” sê mnr. Danie Minnaar, nuwe voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee.

In 1969 het die oesdag as die Sampi-oesdag bekend gestaan. Dit is op die plaas Hopefield in die distrik Bloemfontein aangebied. “Volgens ons rekords het sowat 700 mense dié dag bygewoon en is sowat R50 000 se transaksies gedoen. Die kos wat te koop aangebied is, het ingesluit stywepap, boerewors, tjops, sosaties en bobotie.”

Sedert 1974 word Nampo op die Nampopark-terrein aangebied nadat die plaas Marthaville in die distrik Bothaville daarvoor gekoop is. Marthaville is gekies aangesien 80% van die land se mielies toe rondom Bothaville verbou is.

“Tot vandag toe bly die doelwitte vir Nampo dieselfde: Om ’n platform te bied vir produsente en verskaffers om te ontmoet vir beter landbouproduksie in Suid-Afrika,” sê Minnaar. Hy sê die oesdag word steeds deur vrywilligers en lede van die gemeenskap aangebied, met die kosstalletjies wat deur gemeenskapsorganisasies bestuur word om die gemeenskap te ondersteun.

Minnaar stem saam met Van Coller dat Nampo deur die jare heen ’n geleentheid vir die hele gesin gebly het. “Die boer en sy gesin kan kom kyk wat nuut op die mark aangebied word, en saam kan hulle aan ’n toekomsvisie beplan en droom.”

Meer as 750 uitstallers neem vanjaar aan Nampo deel met sowat 80 000 besoekers wat oor die vier dae verwag word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.