Dit is daarom kommerwekkend dat vandale en skelms toenemend basisstasies in die Vrystaat en Noord-Kaap beskadig, sê me. Mamello Selamolela, streekhoof van Vodacom in die Vrystaat en Noord-Kaap.

“Dis ’n ernstige en toenemende probleem. In die afgelope jaar was daar voorvalle van vandalisme by tot 40% van ons terreine en dit kos ons tot R15 miljoen per jaar om die skade te herstel,” het Selamolela op ’n media-inligtingsdag by Vodacom se kantoor in Bloemfontein gesê.

Dis geld wat beter aan die uitbou van die netwerk bestee kon word, maar selfoonmaatskappye is in ’n voortslepende geveg teen goed georganiseerde sindikate betrokke.

“Dis ’n bose kringloop, want as beurtkrag voorkom, word meer selfoontorings se batterye gesteel.”

Omdat die basisstasies met elektrisiteit aangedryf word, word hulle ook geraak wanneer die kragtoevoer afgesny word. Die selfoonmaatskappy moet ’n manier vind om steeds die netwerk aan die gang te hou. “Die maklikste manier is deur bystandsbatterye of kragopwekkers, maar weens die vandalisme en diefstal op ons terreine raak dit ook al hoe moeiliker om die netwerk volhoubaar aan die gang te hou tydens beurtkrag.”

Die maatskappy het die afgelope jaar R200 miljoen in die Vrystaat en Noord-Kaap in sy netwerk belê, wat uitbreidings en verbeterings insluit. Daar is ook 110 nuwe terreine gebou, waarvan 24 in plattelandse gebiede is. Daar word beoog om oor die volgende jaar ’n verdere 20 tot 40 nuwe terreine op die platteland op te rig.

“As ons infrastruktuur op die platteland bou, gaan dit nie daaroor om ’n bestaande netwerk te verbeter nie, maar om plattelandse gemeenskappe, boere en hul werkers netwerkverbinding te gee wat hulle nie tevore gehad het nie,” het Selamolela gesê.

Een van die grootste probleme is die uitgestrektheid van die landelike gebied wat bedien word, wat die beskikbare hulpbronne tot die maksimum beproef. “Dit duur soms tot 24 uur om sommige van die afgeleë terreine te bereik en vereis ’n toegewyde span om die netwerk te onderhou.”

Datagroei

Die Vrystaat en Noord-Kaap se dataverkeer groei volgens Selamolela aansienlik en die gemiddelde datagebruik per klant is hoër as nasionale gemiddelde. Datagroei van byna 80% is op ’n jaargrondslag aangeteken.

“Tot op datum is 60% van die toestelle op ons streek se netwerk die soort toestelle wat data gebruik, soos slimfone. Dis deel van ons strategie om die aantal klante wat data gebruik, te vermeerder.”

Om dit reg te kry is meer as 500 nuwe LTE-basisstasies opgerig. Die verdere uitbreiding word egter vertraag deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) se gesloer met die toekenning van nuwe frekwensiespektrum wat benodig word om die LTE-netwerk uit te brei. Die vestiging van ’n 5G-netwerk in dié streek gaan ook eers kom nadat dit in die land se grootste metro’s ingestel is.

“Dis baie duur om die 5G-netwerk te vestig, want jy moet nuwe tegnologie inspan en nuwe basisstasies oprig. Dit moet sakesin maak. Jy kan dit nie soos 3G en 4G oral installeer en hoop vir die beste nie. Dit gebruik die hoëfrekwensiespektrum wat tans in die stedelike gebiede gevestig word.”

Dis juis waarom Vodacom in Augustus 2019 eerste in Lesotho ’n 5G-netwerk in werking gestel het. Die regering in daardie land het die nodige hoëfrekwensiespektrum dadelik beskikbaar gestel, het Selamolela gesê. “Maar ons sal nie toelaat dat ons streek vergeet word nie, dit sal net bietjie langer duur as byvoorbeeld Gauteng.”

Sy het gesê in die yl bevolkte en afgeleë plattelandse gebiede is dit duurder om infrastruktuur op te rig. Omdat die plattelandse basistasies nie dieselfde opbrengs op die belegging kan lewer as ’n stedelike een nie, gebruik Vodacom ’n tweeledige stelsel waarvolgens plattelandse terreine in ’n afsonderlike begroting opgeneem word en sekere finansiering word dan vir die ontwikkeling van plattelandse basisstasies eenkant gesit.

Sy het gesê in sommige gevalle het boere gehelp om die oprigtingskoste te deel deur byvoorbeeld kraglyne of paaie na die terreine te help betaal. “Dit help aansienlik om ons begrotings te rek en dienste aan daardie afgeleë gebiede te lewer.”

Vodacom
Van links is mnr. Bongo Futuse, senior korporatiewe kommunikasiespesialis by Vodacom, mee. Marelize Beukes, hoof van kommersiële bedrywighede in die sentrale streek, Mamello Selamolela, streekhoof van Vodacom in die Vrystaat en Noord-Kaap, en Lameck Mkoronongo, bedryfs-en-netwerkhoof van die sentrale streek. Foto: Vida Booysen