Die hele Mpumalanga het goeie reën gekry, en hoewel daar nog nie amptelike statistiek oor die nuutste stand van damme beskikbaar is nie, glo Davel damvlakke sou styg sedert die syfers wat op 31 Desember bekend gemaak is. “As jy al die reën in ag neem wat op plekke soos Badplaas geval het, moet dit in die damvlakke wys,” sê hy.

Vir boere op die Hoëveld het die weer egter ook skade ingehou. Hendrina, Middelburg, Stoffberg en omliggende streke het kort voor Kersfees onder erge haelstorms deurgeloop. Mnr. Gideon Anderson, voormalige voorsitter van Mpumalanga Landbou, boer in die omgewing en sê hy het van 10% tot 100% skade aan sy somergesaaides op landerye van 5 000 ha gehad.

Davel sê ’n ander boer in dieselfde gebied het 3 000 ha se aanplantings verloor. “Dit is te laat vir hulle om weer mielies te plant, en hoewel die landerye wat minder skade gely het goed lyk van die pad af, sal ’n mens eers met oestyd kan sien wat die werklike impak van die storms was.”

Hy sê die laat reën en kouer nagtemperatuur het nie net ’n impak op graanproduksie gehad nie, maar Mpumalanga se boere kon ook nie soveel veevoer maak soos vorige jare nie. Op plekke soos Amersfoort was dit voor Kersfees nog baie droog en boere se boorgate het opgedroog. Dinge lyk nou beter, selfs in die lig van hael- en stormskade, sê Davel.

Limpopo

In Limpopo is boere baie dankbaar vir wydverspreide reën wat oor die provinsie uitgesak het. Mnr. Dricus Botha, bestuurder van TLU SA Noord, sê hy kry positiewe terugvoering van al hul distrikkantore. Hy sê die meeste opgaardamme is aansienlik voller as einde verlede jaar, en plaasdamme is oor die algemeen vol. “Die veld lyk weer mooi. Waar daar ’n maand gelede nie ’n kriesel weiding was nie, is daar nou groen blare en gras wat uitspruit. Ons is baie dankbaar.”

In die Bosveld het plekke soos Marken, Marnitz en Baltimore nog reën nodig, maar verder wes, tussen Thabazimbi en Northam, het goeie reën uitgesak en kan boere weer asemskep.

Die Waterberg, Sekhukhune-gebied en die Laeveld het ook goeie reën gehad, maar in die Vhembe-distrik noord van die Soutpansberg is dit steeds droog. Mnr. Jacques Willemse wat op Weipe boer, sê dit het vroeg in Desember daar gereën. Die meeste plekke wat sowat 40 mm aangeteken, maar sedertdien het dit nog nie weer gereën nie. “Dit is nou weer warm, en hoewel die Limpoporivier bietjie water gekry het, is dit min. Ons boere hier is almal onder druk, maar ons glo en vertrou die reën sal kom.”