Hy het op die onlangse kongres van Mpumalanga Landbou by Badplaas gevra dié wet moet weer onder die vergrootglas kom en daar moet daaroor met die staat onderhandel word.

Boere bevraagteken die grondwetlikheid van dié wet en sê dit is onregverdig dat hulle werkers se verblyfreg moet verseker, terwyl dit van geen ander instellings verwag word nie. “Baie mynmaatskappye het hul werknemers se huisvesting tot niet gemaak. Daar is nie meer ’n bankbestuurder wat ’n bankhuis het nie. Eskom het van sy huise ontslae geraak, maar boere word gedwing om werkers te akkommodeer,” het Laas gesê.

Hy het gesê die meeste boere sal verkies om eerder te betaal om mense te hervestig as om verblyfregsake in die hof teen te staan, maar staatsamptenare ry pogings om geskille deur bemiddeling te besleg gereeld in die wiele. “Hulle keer om een of ander rede dat plaasbewoners goeie aanbiedinge aanvaar. Mense wat wel bemiddelaars se voorstelle aanvaar het, sê dis die beste ding wat in hul lewe gebeur het. Hulle woon nou in dorpe met al die voordele wat dit bied.”

Laas het die kongres gevra of daar ’n manier is waarop Mpumalanga Landbou en Agri SA die diskriminerende aard van hierdie wet kan toets.

Nie diskriminasie nie

Me. Annalise Crosby, beleids- en regsadviseur oor grondsake by Agri SA, het die kongres virtueel toegespreek en verduidelik dat hoewel boere rede het om te dink die wetgewing is diskriminerend, sal die hof dit nie noodwendig as onbillik beskou nie en daarom is dit nie aanvegbaar nie. “Ons het reeds in 2002 ’n regsmening van senior advokate ingewin. Hulle het gesê verblyfreg is differensiasie, maar nie diskriminasie nie en ons daarop gewys dat ’n aanslag op die wet nie in Grondwethof sal slaag nie.”

Sy meen die probleem met dié wet lê by swak toepassing. Die departement van grondsake is veronderstel om subsidies beskikbaar te stel vir die toepassing van die wet, maar dit het nooit gebeur nie.

Mnr. Pierre Vercueil, president van Agri SA, het gewaarsku dat die wet nie gaan verdwyn nie en het gesê boere moet oopkop daaroor dink. In sy gebied kon hy werkers help om vir hulself huise in die kommunale gebied te bou, maar nie almal boer naby aan so ’n gebied nie. “Ons gaan onder mekaar oplossings moet kry en ons nie blind staar teen probleme nie. As ons daarteen vaskyk, gaan ons niks doen nie.”

Dit kan beteken boere moet plaasdorpe vir werkers in hul omgewing stig waar boeregemeenskappe vir plaaswerkers eiendomsreg op eiendomme kan gee. “Daar is sekerlik moeilikheid daaraan verbonde, maar as ons nie ’n beter plan het nie, dan moet ons die moeilikheid vat en dit regmaak,” het Vercueil gesê.

Hy stem saam met Laas dat dit beter is om, waar moontlik, goeie verhoudinge in ’n distrik na te streef en eerder met mense te onderhandel oor hervestiging as om in ’n hofstryd betrokke te raak.