Só sê mnr. Oubaas Malan, boer van Wakkerstroom, oor die Noord-Gautengse hooggeregshof se bevel wat omgewingsgoedkeuring vir ’n ondergrondse steenkoolmyn in die Mabola- beskermde gebied naby Wakkerstroom in Mpumalanga tersyde stel. Die goedkeurings wat in 2016 deur mnr. Mosebenzi Zwane, die voormalige Minister van Mineralehulpbronne, en me. Edna Molewa, die Minister van Omgewingsake, toegestaan is, was die eerste keer dat toestemming gegee is aan ’n myn om in ’n beskermde gebied te werk.

Die Sentrum vir Omgewingsreg het die hofaansoek verlede jaar namens ’n koalisie van agt gemeenskapsorganisasies gebring. Malan sê daar was groot bekommernis omdat die mynmaatskappy Atha Africa van plan was om die ondergrondse water, waarvan die streek se boerderygemeenskap afhanklik is, leeg te pomp.

“Ons wêreld het net natuurlike water. Daar is nie boorgate en pompe en windpompe nie. As hulle die water leegpomp aan die onderkant van die berg, wat word van die fontein bo in die berg?” Hy sê hulle is nog steeds besorg omdat die hof die besluit terugverwys het na die ministers wat die vorige keer so ’n problematiese besluit geneem het, maar hoop dat die hof se duidelike instruksies oor hoe die besluit moet geskied, ’n gunstige uitkoms sal verseker.

ONDEURSIGTIG

Die hof het die besluit na die twee ministers terugverwys op grond daarvan dat hulle nie hul besluite in ’n oop en deursigtige manier geneem het of op ’n manier wat openbare deelname bevorder nie. Die besluite was dus prosedureel onregverdig.

Die ministers het ook deurgeloop onder kritiek omdat hulle op die prosesse van ander besluitnemers staatgemaak het eerder as om onafhanklik die diskresie toe te pas wat hulle ingevolge die nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede (Wet 57 van 2003) geniet.

Dié wet vereis ’n versigtige benadering wanneer daar met “vatbare, kwesbare, hoogs dinamiese ekostelsels of ekostelsels onder druk” gehandel word. Die hof beskou die ministers se versuim om aan dié vereiste te voldoen as ’n “ontoelaatbare abdikasie van besluitnemingsgesag”.

NUWE BESLUIT

Regter Norman Davis het gelas dat wanneer Zwane en Molewa se twee opvolgers Atha Africa se aansoek heroorweeg, moet hulle spesifiek die volgende doen: Voldoen aan die Wet op Administratiewe Geregtigheid. Die belange van plaaslike gemeenskappe en die omgewingsbeginsels van die Wet op Omgewingsbestuur (Wet 107 van 1998) “noukeurig toepas”.

Hul besluite op heroorweging uitstel tot ná die appèlle teen Atha Africa se omgewingsbestuurplan en watergebruiksregte afgehandel is. Nie toestemming gee vir omgewingsgoedkeuring tensy ’n bestuursplan vir die Mabola- beskermde gebied deur Mpumalanga se LUR vir omgewingsake goedgekeur is en die bestuursplan se sonering van die myngebied sulke mynbedrywighede toelaat.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.