Dit is een van die bevindings in ’n ondersoek wat die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) vir die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeleng (Sacta) gedoen het oor die potensiële impak wat die nuwe heffings sal hê.

Die sojaboonheffings tree aanstaande jaar in werking. In die koring- en garsbedryf word heffings reeds vir die tweede jaar deur Sacta ingesamel en uitbetaal. In Suid-Afrika word tot

80% van selfbestuiwende gewasse met terughousaad geplant. Hoewel dit wettig is, het dit veroorsaak dat saadmaatskappye nie vergoed is vir die navorsing en ontwikkeling van nuwe kultivars nie. Dit het voorkom dat verbeterde saad en tegnologie na die plaaslike mark gekom het.

Volgens die BFAP was daar in die mieliebedryf, waar kruisbestuiwing boere verplig om jaarlikse nuwe saad te koop, van 1999 tot 2017 jaarliks ’n gemiddelde opbrengsverhoging van 3,5%. In teenstelling daarmee het sojaboonopbrengste in dié tydperk met gemiddeld 0,43% jaarliks en koringopbrengste met 2,51% jaarliks gestyg. In die garsbedryf was die groei 4,67% per jaar vanweë aansienlike beleggings deur die aankopers van die gars.

“Hoewel verbeterde boerderypraktyke ook ’n belangrike rol gespeel het, toon hierdie opbrengsverhogings die noodsaaklikheid van beleggings in verbeterde saadkultivars en tegnologie in die soja- en koringbedryf en volgehoue navorsingsprojekte vir die garsbedryf,” sê die BFAP.

Die verslag beklemtoon dat Suid-Afrika internasionaal moet meeding waar gewaspryse bepaal word deur die produksievlakke van die groot produserende lande en boere wat die jongste tegnologie benut. Om ekonomies te oorleef, moet produksie voortdurend verbeter.

In dieselfde sowat 20 jaar was die jaarlikse gemiddelde opbrengsverhoging vir sojabone in Amerika 1,46%, in Brasilië 1,33% en in Argentinië 0,64%. Dit beteken oor dié tydperk was Suid-Afrika se gemiddelde opbrengs 40% laer as die gemiddelde in die drie grootste produserende lande.

Vir koring het die opbrengste in Rusland jaarliks met gemiddeld 2,69% gestyg, in Argentinië met 1,62% en in Amerika met 0,85%.

Die heffings is in pas met van die voorste landboulande wat ook soortgelyke eindpuntheffings ingestel het.Gegrond op die 2016-’17-produksiejaar is die potensiële inkomste uit tegnologieheffings sowat R85,5 miljoen vir die sojaboonbedryf, R47,7 miljoen vir die koringbedryf en R7,7 miljoen vir die garsbedryf. Vir ’n boer sou dit ’n bykomende koste van R149/ha vir sojabone, R94/ha vir koring en R87/ha vir gars saam met die koste van die terughousaad beteken het. In teenstelling daarmee was ’n mielieboer op droëland se saadkoste van R1 100/ha tot R2 480/ha in 2016.

Die BFAP wys ook daarop dat daar in 2016 sowat 33 maatskappye in Suid-Afrika was wat by die teling van mieliekultivars en saadverkope betrokke was. In dieselfde jaar was daar 12 maatskappye met sojaboonsaad en net 4 met koringsaad, waarvan een die LNR se Kleingraaninstituut was en twee ander het intussen saamgesmelt.

Daar word bereken dat die groter betrokkenheid van saadmaatskappye met nuwe tegnologie in die sojaboonbedryf tot ’n opbrengsverhoging van 3,5% kan lei, wat die gemiddelde opbrengs oor tien jaar op 2,5 ton/ha te staan sal bring. Dit kan die inkomste vir die bedryf met meer as R1 miljard verhoog.

Die verwagte opbrengs van koring teen 2027 word geraam op 3,63 ton/ha en vir gars 3,96 ton/ha. Dit sal onderskeidelik lei tot ’n bykomende inkomste van R483 miljoen en R59 miljoen.