Boere in die omgewing sê die reën het oor die naweek begin val en teen Woensdag 2 September is op plekke in die omgewing al meer as 40 mm gemeet. Die sagte, deurdringende reën het nie tot invloei by die Tzaneen- of Ebenezerdam bygedra nie, maar verlig wel druk op die stelsel.

Mnr. Zander Ernst van Allesbeste Boerdery sê danksy die reën hoef hy vir ’n week of meer nie te besproei nie. Daardie besproeiingswater word dus gespaar.

Mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging, sê die Tzaneen- en Ebenezerdam was albei teen 1 September net meer as 12% vol. Danksy streng maatreëls wat die vereniging ingestel het en waarby sy lede hou, behoort daar genoeg water te wees tot einde Oktober.

Dit behels onder meer dat besproeiingsboere in die stelsel net 30% van hul waterkwota gebruik. Kruger is vol lof vir die boere se samewerking in dié verband.

Hy sê die vroeë lentereën en ander ingrypings van die watergebruikersvereniging het gehelp dat daar weer invloei was by die onderste keerwalle in die stelsel. Daar was byvoorbeeld nie meer invloei by die Nondweni-keerwal nie, maar ná die reën en ingrypings het daar weer water by die Prieska-keerwal stroomop begin oorvloei na Nondweni.

Een van die ingrypings was om seker te maak dubbele onttrekkings word nie gemaak deur stamhoofde in landelike gebiede wat hul water aan kommersiële boere stroomop afstaan en dan steeds water in hul stamgebiede onttrek nie. Nuwe kwotas is vir daardie onttrekkings beding en dit is hierdie boere, groot en klein, vir wie die reënbui welkome verligting gebring het.