Agri SA het sy medelye betuig met die naasbestaandes van me. Gezina Bruwer, die slagoffer van ’n plaasaanval in Noordwes. Sy is die naweek in die kop geskiet deur aanvallers wat vermoedelik die plaashuis naby Vorstershoop dopgehou het om vas te stel wanneer haar man, Pierre, die huis verlaat. Volgens Agri SA het die verdagtes ná die moord oor die grens na Botswana gevlug. 

“Die voortgesette wrede plaasaanvalle op die landbougemeenskap wat ’n produktiewe bydrae tot die land se ekonomie maak en voedsel aan miljoene mense voorsien, moet uit alle oorde veroordeel word,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee. “Boere en plaaswerkers voel geïsoleer en leef daagliks in vrees.” 

Hy sê dat boere onder die gedurige wydverspreide druk van plaasmisdaad ly. “Landelike gemeenskappe is maklike teikens vir misdadigers. Daarom is ’n groter mate van paraatheid tuis en betrokkenheid by plaaslike gemeenskapsbeveiligingstrukture nodig. Boere het die daadwerklike ondersteuning en optrede van hul plaaslike polisie en die versekering dat die strafregstelsel doeltreffend funksioneer dringend nodig.” 

Agri SA versoek enigeen met inligting oor die voorval om na vore te kom, sodat die aanvallers spoedig aangekeer kan word. 

Rooftog

Die organisasie vra boere om eerder hul plaaslike veiligheidsnetwerk aktiveer en die polisie ontbied as hulle bewus word van verdagte aktiwiteite op hul plase as om verdagtes te konfronteer. Esterhuyse sê dit is beter om te observeer as om verdagtes te konfronteer, aangesien verdagtes deesdae gewoonlik gewapen is en rooftogte al hoe meer gewelddadig word. 

“As die plaaslike polisie traag is om te reageer, moet die inligting aan die plaaslike veiligheidsverteenwoordiger deurgegee word, sodat daar druk op die polisie se provinsiale leiers geplaas kan word om die plaaslike polisiekantoor aan te sê om op te tree.” 

Mnr. CP Kriek van die Taaibosch-varkboerdery naby Fochville – wat in 2016 Gauteng se Jongboer van die Jaar was – het verlede week tydens ’n voorval op sy plaas skietwonde opgedoen. 

Mnr. Thinus van Zijl, uitvoerende hoof van Agri Gauteng, sê Kriek se plaaswag het verlede week verdagte bewegings op die plaas bespeur. Donderdagaand het die plaaswag Kriek se voorman ingelig dat verdagtes besig is om sy transformator te steel. Kriek het mnr. Gawie Maritz, ’n polisiereservis, na die plaas ontbied. 

Kriek, die voorman en Maritz het toe met die bakkie se ligte af na die toneel gegaan om die verdagtes te konfronteer. Toe hulle by die toneel kom, het hulle die bakkie se ligte aangesit en vier gewapende verdagtes betrap. Kriek het die verdagtes beveel om hul wapens neer te lê en drie waarskuwingskote afgevuur. ’n Skietery het ontstaan en Kriek is drie keer raakgeskiet. Hy word in ’n hospitaal in Potchefstroom behandel. 

Een van die verdagtes is raakgeskiet en in hegtenis geneem nadat hy later in die veld gevind is. Die ander verdagtes het gevlug. Maritz is in die bors getref, maar is danksy sy koeëlvaste baadjie nie gewond nie. 

Van Zijl sê die voorval word beskou as ’n gewapende rooftog en nie ’n plaasaanval nie. Hy sê transformators word gesteel om uitmekaar gehaal en as skrootmetaal verkoop te word. Volgens Esterhuyse is diefstal ten einde skrootmetaal bymekaar te maak iets wat spesifiek in Agri SA se nuwe landelike beveiligingsplan uitgelig word. Daar word beoog om dié plan op 15 Februarie met die samewerking van die polisie bekend te stel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.