Waar boere uit nood self inspring om slaggate op te vul, word hul werkers geïntimideer en stel hulle hulself bloot aan vervolging.

Intussen probeer boereverenigings allerlei maniere om provinsiale owerhede verantwoordbaar te hou en oplossings vir die krisis te vind wat hul lede miljoene rande kos. “Ons moet veg daarteen om dié toedrag van sake as die normale te aanvaar. Ons kan nie net terugsit en niks doen nie,” sê mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Hy vra dat mense wat skade gely het weens slaggate op provinsiale paaie, eisvorms invul wat deur die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer voorsien word, en afskrifte aan VL stuur. “Ons gaan aanhou druk plaas tot daar resultate is.”

HOFBEVEL

In die Oos-Kaap voer die provinsie se boere ’n jare lange hofstryd om die provinsiale departement te dwing om sy verantwoordelikhede na te kom. Dit duur voort, sê mnr. Brent McNamara, uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap. “Ons agterstand is baie groot. Tot 80% van ons paaie in landelike gebiede word nie volgens voorskrif in stand gehou nie.”

In 2017 is ’n omvattende hofbevel teen die department verkry wat in praktyk beteken dat boere self die paaie sou kon herstel en die regering daarvoor moes opdok. Die provinsiale regering het daarteen geappelleer.

Die twee partye het toe in ’n skikking ooreengekom dat die provinsiale regering dadelik voorkeur sou gee aan die haglikste paaie, dat hy Agri Oos-Kaap se insette oor brandpuntpaaie in ag sal neem, en dat hy Agri Oos-Kaap oorsig oor die begroting sou gee. Dit het nie gebeur nie. Agri Oos-Kaap is in 2020 weer hof toe waar dié skikkingsooreenkoms ’n hofbevel gemaak is.

Die hofstryd duur steeds voort om die LUR, me. Weziwe Tikana, te dwing om die hofbevel te gehoorsaam. Agri Oos-Kaap hersien nou verdere moontlike regstappe. “Aangesien die skikkingsooreenkoms nou ’n hofbevel is, kan dit beteken dat die LUR deur die howe gestraf kan word indien daar opsetlike nie-nakoming bevind word,” sê McNamara.

Dit gee Agri Oos-Kaap ’n hefboom om te onderhandel oor die kwessie van openbare aanspreek- likheid. ’n Private instelling mag tans nie aan die paaie werk nie, tensy hy deur die regering gekon- trakteer is.

“Ons as boere het reeds aanvaar as ons net op die regering se begroting staatmaak om paaie te herstel, sal niks gebeur nie. Ons sal sekere herstelwerk self moet doen. Ons wil vra vir ’n ooreenkoms waarbinne sekere funksies, byvoorbeeld om slaggate te vul, wettig deur boere gedoen kan word.”

INTIMIDASIE

In die Vrystaat, waar boere slaggate op die gehawende pad tussen Fouriesburg en Bethlehem met gruis begin opvul het, is hulle deur kontrakteurs verjaag, sê mnr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL.

“Ná samesprekings met die departement het laasgenoemde die kontrakteur beveel om saam met die boere werk om die werk vinniger gedoen te kry. Toe intimideer die kontrakteur die boere se werkers en die boere het hulle nou onttrek.”

Die mandaat om die paaie te onderhou, lê egter by die regering. “Ons kan nie van boere verwag om die werk te doen, daarvoor te betaal en dan nog self die aanspreeklikheidsrisiko te dra nie. Die oplossing lê in ’n gesamentlike benadering. Ons wil weet wat hulle bestee en ons wil inspraak hê in waarheen die geld gaan.”